Pres. Cyril Ramaphosa het gisteraand ’n “familievergadering” gehou, net dae voor die herdenking van die dag twee jaar gelede waarop die land in ’n staat van inperking geplaas is.

Sportstadions word ná twee jaar weer oopgestel tot ’n maksimum van 50% van hul kapasiteit – maar toeskouers wat sportbyeenkomste daar wil bywoon, moet bewys kan lewer dat hulle teen die Covid-19-virus ingeënt is of in die afgelope 72 uur negatief getoets is.

Ramaphosa sê die besluit oor sport sal veral sport-, kulturele, en vermaakbedrywe bevoordeel.

SA Rugby het die nuwe vergunning verwelkom.

“As daar geen voorsiening is vir bewys van inenting of ’n Covid-19-toets nie, dan sal die huidige boonste perk – van 1 000 mense binnenshuis en 2 000 mense buitemuurs – van krag bly.

“Die maksimum getal mense wat begrafnisse kan bywoon, sal ook styg van 100 tot 200. Soos voorheen bly nagwake en saamtrekke ná begrafnisse verbode,” het Ramaphosa gesê.

Suid-Afrikaners sal steeds binnenshuis in die openbaar maskers moet dra, maar nie buitenshuis nie. Binnenshuis sluit winkels, taxi’s, treine en busse in.

“Die regulasies oor die handhawing van gesonde fisieke afstande sal ook verander. Mense moet nou een meter van mekaar bly.”

Veranderings in die regulasies oor internasionale reise lui nou dat reisigers wat Suid-Afrika binnekom ’n bewys van inentings of ’n negatiewe toets van nie ouer nie as 72 uur as bewys moet voorlê.

Al hierdie wysigings het reeds vandeesweek in werking getree.

Verder het Ramaphosa gesê die nasionale ramptoestand sal opgehef word sodra openbare kommentaar oor die voorgestelde konsepregulasies afgehandel is.

“Die einde van die ramptoestand sal egter nie die einde van die pandemie beteken nie. Dit beteken net dat die wyse hoe dit bestuur word, verander sal word. Dit beteken ons begin om met die virus saam te leef.

“Ná vier vlae van infeksies word al hoe minder mense siek. Daar is ook minder sterftes.

“Wetenskaplikes sê dit is omdat tussen 60% en 70% van die bevolking die een of ander vorm van die siekte gehad het,” het Ramaphosa gesê.

Meer as 68% van mense van ouer as 60 is al ingeënt. Hy is egter bekommerd dat net 35% van jongmense ingeënt is en doen opnuut ’n beroep op hulle om dit te laat doen.

“Suid-Afrika is nou by ’n waterskeidings­oomblik in die stryd teen die Covid-19-pandemie en is gereed om ’n nuwe fase binne te gaan in die wyse hoe die pandemie bestuur word.”

Die land se gesondheidstelsel het die afgelope twee jaar geleer hoe om die pandemie beter te bestuur.

Sowat 40% van die bevolking het ook al minstens een dosis van die entstowwe ontvang.

“Hoewel die pandemie nog nie verby is nie, keer baie aspekte van ons lewe terug na normaal – ook die ekonomie wat al hoe meer begin oopmaak weens die veranderende aard van die pandemie en die kollektiewe poging van die nasie om hul deel te doen,” het Ramaphosa gesê.

Meer as 3,7 miljoen gevalle is in Suid-Afrika aangemeld. Sowat 100 000 mense het gesterf.

“Ons kan sover as moontlik terugkeer na die lewe wat ons voor die pandemie geken het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article