Haweloses wat vir ’n geruime tyd by die Hugenote-stasie hulself gevestig het, is verlede Dinsdag (15 Maart) deur Prasa met die hulp van Drakenstein-munisipaliteit verwyder.

Hoewel die meerderheid van die mense wat by die taxi-staanplek by dié treinstasie geen keuse gehad het as om hul besittings op te pak nie, is daar nog hier en daar ’n skuiling teen ’n boom op die private grond opgeslaan.

Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste in Drakenstein, het by navrae gesê die aangeleentheid rondom haweloses is nie binne die amptelike mandaat van die munisipaliteit nie. Hy voeg egter by die Drakenstein-munisipaliteit probeer die probleem van haweloses “binne die munisipale gebied” hokslaan deur betrokke te wees by gereelde operasies. Dié spesifieke operasies word uitgevoer in samewerking met die Wes-Kaapse departement van maatskaplike dienste, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en private grondeienaars.

“Wat hierdie spesifieke aangeleentheid by die Hugenote-stasie betref, woon die haweloses op private grond wat aan Prasa behoort.

“Tydens die operasie het ons die mense verwyder van die perseel in samewerking met die grondeienaars. Die perseel is ook netjies skoongemaak.

“Daar het ongeveer 18 mense gewoon. Van hulle is met hul families geïntegreer, maar ongelukkig weier die oorgrote meerderheid om met hul families geïntegreer te word.”

Esau het ook bevestig die munisipaliteit is tans besig met die oprig van ’n oornagskuiling in die Paarl.

“Dié projek is in ’n gevorderde stadium en ons sal eersdaags met werksaamhede in dié verband kan begin.”

Verlede week het Paarl Post ook berig oor die toenemende aantal haweloses wat onwettig in Weltevrede in Wellington plak.


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article