Hoe was dit moontlik om vandeesweek menseregte te vier terwyl die aarde bewe met Vladimir Poetin se bloedige en sinnelose aanval op die Oekraïne, terwyl ons regering, wat hom nog altyd as ’n kampvegter vir menseregte sien, steeds handjies met dié Russiese beer vashou?

Maar nader aan die huis – hoe kan ons Menseregtedag vier terwyl die land met die hoogste werkloosheidsyfer nog struikel? Hoe kan ons dit vier as ons die hoofopskrifte lees van nog ’n skrikwekkende styging in die petrolprys en dan ook rentekoerse wat vandag nog deur die reserwebank verhoog gaan word. Hiermee saam gaan kospryse tot buite die bereik van talle styg.

Hoe vier jy menseregte wanneer die kanker van geweld en misdaad in jou strate rondloop en jou en jou geliefdes pal bedreig; waar honderde kinders op straat is en nie weet waar hul volgende maaltyd vandaan gaan kom nie?

En wat van oorvol klase waar kinders soos sardientjies ingeprop is en absoluut geen kans het op basiese onderrig nie, om nie eens te praat van burgers se hard verdiende lone wat letterlik deur die regering gesteel en verduister word nie.

Mense se regte realiseer deur ’n staat wat in diens staan van sy mense; ’n staat of plaaslike regering wat funksioneer en omsien na sy mense en die nodige en regverdige dienste vir almal lewer.

Om nou terug te dink aan Maandag se Menseregtedag – was daar enigiets wat die moeite werd was om te vier?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article