Verlede week het ’n gesellige saamtrek met vriende in ’n oogwink verander toe een van hulle erge brandwonde opgedoen het.
Ds. André Pekeur (45) van die Paarl en sy vrou het Maandag 21 Maart saam met vriende in Stellenbosch potjiekos gemaak toe die fratsongeluk gebeur het.
André se broer, Jacques Pekeur, het verduidelik dat die groep kos in klein potjiekospotjies gemaak het en dat die brandstof-jel wat onder sy broer se potjie was, op was.
Een van die vriende wou die houer weer vul toe van die brandstof-jel op sy broer gespat het. Die vlamme het egter saam met die jel gespring en sy broer se klere aan die brand laat slaan. André se vrou, Carlene, het haar man probeer help deur die brandende klere van sy lyf af te probeer kry.
André is ná die voorval na die Mediclinic Stellenbosch geneem waar hy steeds behandeling ontvang. Hy het erge brandwonde aan sy regterhand en -arm sowel as aan sy maag, regterboud en linkervoet opgedoen. Volgens Jacques is die dokters veral bekommerd oor André se regterhand en sy regterboud.
Die slagoffer het Dinsdag 22 Maart ’n sintetiese veloorplanting ondergaan, wat sowat vier uur geduur het. Hy het Dinsdag 29 Maart nog ’n operasie ondergaan om die steke te verwyder. Dié operasie het byna twee ure geduur. André het ook Dinsdag die goeie nuus gekry dat sy sintetiese veloorplantingsoperasie suksesvol was.
Volgens Jacques was sy broer verlede week in erge pyn, maar is sy gemoed hierdie week baie beter selfs na die tweede operasie. André is ’n oudleerder van New Orleans Sekondêr en is die afgelope paar jaar die leraar by VGK Prince Alfred Hamlet. Hy werk as geestelike fasiliteerder by Drakenstein-gevangenis.
Jacques sê sy broer en sy gesin woon steeds in die Paarl en hy het die Sondag voor die voorval nog by VGK Huguenot gepreek. Hy sê sy broer is tans besig met sy doktorsgraad in teologie en hy hoop dié ongeluk sal nie ’n demper op sy broer se studies plaas nie.





