Is daar weer fout by die vullisverwyderingsafdeling van die munisipaliteit?

’n Berig het ’n paar weke gelede in Paarl Post verskyn oor die bewerings dat nie genoeg werkende vullisverwyderingsvragmotors glo beskikbaar is nie, en die munisipaliteit het dit laat klink asof die probleem opgelos is. Ek kom egter agter dat die vullis weer laat opgelaai word – tot ná sesuur saans en selfs Saterdagoggende.

Ek sal verstaan as probleme hier en daar opduik, maar op so ’n gereelde basis weet ek en enige ander regdenkende mens mos dadelik alles is nie reg soos gesê word nie.

Selfs die herwinningsakke is twee weke gelede ook nie opgelaai nie.

Ek is nie seker of dié vragmotors nou weer stukkend is en of die stygende petrol- en dieselpryse eerder die skuld moet kry nie.

Die stadsvaders sal dit seker nie erken as hulle nie die mas opkom nie, maar dalk wen hulle meer vertroue van hul belastingbetalers deur oop kaarte te speel en sal inwoners dan meer verdraagsaam wees.


Gayle,

Paarl-oos

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article