Gizelle se seun MJ (5) is net so besig en is al om sy versorgende ma se voete. Foto: Heleen Rossouw



Moeders van die 21ste eeu staar daaglikse uitdagings in die gesig, soos om goeie ma’s en lewensmaats te wees, boonop met die verwagting om tot die gesin se finansiële welsyn by te dra.

Een so moeder wat hiervan getuig, is Gizelle Naudé (33) van Wellington. Sy is ’n “besige bytjie” wat haar nuwe onderneming, Sassy H Boutique, op die been gebring het.

“Dit het alles met my oudste begin, wat verlede jaar sedert Oktober eers weer terug is skool toe. Ons het hom in Maart 2020 uitgehaal toe Covid-19 begin het.”

Gluten- en suiwelproduk-intoleransie is by haar seun, MJ (5), gediagnoseer en Gizelle sê hy sukkel ook met ’n spraak-agterstand. Uit die aard van die saak raak dit haar hele huishouding.

“Omdat sy woorde gebroke is, doen klein boetie, Daniël, alles wat hy doen. So het ons besef dat klein boetie ook moet begin skooltjie toe gaan sodat hy tussen sy maats kan wees en die woorde reg leer.

“Die afgelope twee jaar was ek tuis met my kinders en my plasings-onderneming het ongelukkig weens die pandemie gesluit. Ek moes ook vir my oudste beskikbaar wees weens sy skool se sluitings en tye.”

Dit het uiteraard tot ’n hewige finansiële uitwerking weens, onder meer, die terapie wat MJ benodig, gelei.

“Ek moes van alle kos wat chemikalieë bevat, ontslae raak en alles met natuurlike produkte wat ek self maak, vervang. So het ek in November met my onderneming, Hawequa Natural Products, begin. Natuurlike produkte neem baie langer om in ’n volhoubare onderneming te ontwikkel, veral as jy sonder kapitaal begin.”

Aan die einde van 2021 was haar kontantvloei erg beperk en sy het gesukkel om met die uitdagings kop bo water te hou.

“Toe ontmoet ek iemand wat ek nou ’n vriendin noem. Sy moes aan die begin van die jaar terugtrek Namibië toe en het gevra of ek die leggings- afdeling van haar klerereeks wil oorneem. Ek was eers baie onseker, maar het die Here gevra as dit is waar Hy my nou wil hê, moet ek 20 van die leggings in 24 uur verkoop.” vertel sy. “Toe verkoop ek 28 in 16 ure. Dit was my antwoord vir die seisoen. Tans is 150 ingevoerde leggings al deur my vingers in minder as twee maande. Die spesifieke leggings kom in one-size-fits-all-groottes en pas selfs swanger vroue.”

Sassy H Boutique bestaan uit mooi en goed-voel-uitrustings en oorbelle wat bekostigbaar is en ontwerp is om elke vrou “soos ’n miljoen” te laat voel, vertel Gizelle. Sy ontwikkel reeds haar eie uitrustings wat in Suid-Afrika vervaardig word. Vir nou behels die produklyne ’n loungewear-reeks, die worthy-dress vir formele en informele geleenthede, gewone leggings wat in lank- en driekwart-lengtes beskikbaar is, sowel as kort oefenbroeke van ligte materiaal vir drawwers.

Sy is gedurig aan die gang om haar onderneming te verfyn met die regte verskaffers, maklik bekombare en bekostigbare materiale uit te snuffel en sal binnekort daarna kyk om plaaslike naaldwerkers se talente te win.

“Ek werk hard om die een soort materiaal op te spoor wat fluweel-sag is en my klante beïndruk. Ongelukkig neem die invoer daarvan weke om hier aan te land, en dit is toe dat die oorbelle, die loungewear en die Worthy Dress oor my pad gekom het.”

Vir die loungewear-stelle het Alicia Morkel van Wellington oor Gizelle se pad gekom. Sy maak skoolklere. “Die oulike Alicia sê sy het in haar hart gevoel om my te help. Dan het ’n wonderlike tannie in Durbanville my hand gevat en help ons om die rokke te maak en materiaal op te spoor omdat ek nie self oor die patroon beskik nie.”

Sassy H Boutique gaan ’n plaaslike handelsmerk word wat die gemeenskap se vroulike verbruikers nie net van styl nie, maar geloofsoortuigings ook voorsien.

“Die konsep is om vroue in ons gemeenskap se gemoed te lig en hulle te herinner hoe kosbaar hulle in God se oë is. Ek voeg ’n houtsleutelhouer as ’n geskenk by elke bestelling met woorde daarop gegrafeer, wat my klante aan die volgende sal herinner: Sy is geestelik sterk en tree altyd waardig op. Vir die toekoms is sy nie bang nie.

“Ek wil dit spreek oor elke liewe vrou wat enige van my produkte, klere of oorbelle koop. Sonder my geestelike krag en God se leiding sou ek nooit die moed gehad het om dit aan te pak of so ver gekom het nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article