Leer sjef Mynhardt Joubert se kombuisgeheime in Stories uit my Stasiestraat-kombuis.



Die geliefde Paarlse sjef Mynhardt Joubert het pas sy nuwe kookboek bekend gestel.

Mynhardt kook al die afgelope jare ’n storm los vir gaste in sy Stasiestraat-kombuis in Suider-Paarl, daarom die naam van sy boek, Stories uit my Stasiestaart-kombuis. Die boek is dus ’n weerspieëling van sy kombuis en die etes wat hy daar aanbied.

Mynhardt deurdring alles wat hy doen met sy entoesiasme, uitbundigheid en liefde vir kos, wat sy lewenser­varings inkorporeer – van sy kinderjare op ’n plaas in die Oos-Vrystaat tot sy reise oor die wêreld heen en deur Suid-Afrika. Sjef Mynhardt het meer as ’n dekade gelede in die Kaap aangekom en in ’n wynkroeg in De Waterkant gewerk. Ná ’n uitlopende loopbaan in die kunste het die wêreld van kos en wyn hom gelok en hy het daarop verlief geraak. Hy glo daar is niks meer bevredigend nie as om kos met liefde voor te berei en om te sien hoe mense dit “uit die hart” geniet. Sy pad het gelei na Riebeek-Kasteel, waar hy saam met Anton en Cecile Espost en sy vrou Bar Bar Black Sheep begin het. Dit was hul gemeenskaplike droom om ’n boerewynkroeg en -eetplek te begin, en gou het dit bekendheid gewerf as eetplek waar kos met hart en siel voorberei is – met plaaslike bestanddele, waarvan baie self gekweek is – en in die eenvoudigste en smaaklikste kombinasies bedien word.

Mynhardt het vyf jaar later ingeskryf vir kykNET se werklikheidskookkompetisie Kokkedoor. Hierdie, vertel hy, was die ervaring van ’n leeftyd, en hy en sy kookmaat het die kompetisie gewen.

Mynhardt was ook die handelsmerkambassadeur vir die KWV-bemarkingsveldtog vir ’n aantal jare.

Mynhardt se resepte weerspieël sy eklektiese smaak van die eenvoudige tot die eksotiese – van ware Suider-Afrikaanse juwele tot geregte wat deur die Middellandse See, Oos-Europa en Asië beïnvloed is.

Hier deel Mynhardt een van sy smaaklike resepte wat in sy boek verskyn. Een Paarl Post-leser kan ’n eksemplaar van Stories uit my Stasiesraat-kombuis wen deur die antwoord op die volgende vraag teen Woensdag 6 April na die WhatsApp-nommer 066 484 3728 te stuur: Wat was die naam van die restaurant waar Mynhardt in Riebeeck-Kasteel gekook het?

Romeinse porchetta (10 porsies)

Dié tradisionele gereg is ’n gewilde straatkos wat oor die hele Sentraal-Italië heen voorgesit word. Dit is tydrowend om te maak, ja, maar die moeite werd. Gewoonlik word ’n hele sog ontbeen, gevul, gegeur en vir agt uur oor ’n spit gebraai totdat die vleis sappig en die vel bros is. Hier is Mynhardt se veel makliker weergawe met varklies:

Die inwoners van Rome maak daarop aanspraak dat hul weergawe van dié gereg die beste is, voorgesit op vars ciabatta. “Ek kan nie wag vir die dag wat ek self in ’n keisteen-binnehof in Rome daaraan kan sit en smul nie!”• 30 ml vinkelsaad• 30 ml vars roosmarynnaalde• 30 ml vars tiemieblare• 6 knoffelhuisies, geskil en gekap• 10 ml gerookte brandrissievlokkies• Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen• 100 ml witwyn• Sout en peper na smaak• 1 groot (± 3 kg) ontbeende varklies, met die vel aan (vra die slagter om kepe in die vel te sny)• 1 groot (± 450 g) varkfilet• Kombuistou• 15 ml bakpoeier• 10 ml sout

Rooster die vinkelsaad in ’n droë pan vir 30 sekondes of tot geurig.

Plaas die roosmaryn, tiemie, knoffel, vinkelsaad, brandrissie, suurlemoenskil en -sap, witwyn en geurmiddels in ’n voedselverwerker en zirts totdat alles gekap en gemeng is.

Plaas die varklies met die velkant na onder op ’n kapbord en sny kepe in die vleis. Vryf die speserymengsel goed in die vleis asook oor die varkfilet. Plaas die filet in die middel van die varklies en rol op. Bind die lies met kombuistou vas sodat dit alles bymekaar hou.

Meng die bakpoeier en sout en vryf oor die vel van die varklies. Verkoel die vleis onbedek vir 4 uur of oornag om seker te maak die vel droog uit.

Verhit die oond vooraf tot 160 °C.

Giet 1 liter water in ’n oondpan met ’n draadrak binne-in en plaas die opgerolde varklies op die rak.

Rooster vir 3 tot 4 uur in die oond.

Jy sal dalk halfpad deur die proses ekstra water moet byvoeg.

Laat die vleis vir 30 minute rus voordat jy dit sny.

Jy kan ook die vleis met die pansappe bedruip om dit ekstra sappig te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article