Die jubelende rugbyspan van Young Peoples na afloop van die Chester Williams-uitdaagwedstryd.



Die rugbyklubs Young Peoples en Albions het Saterdag om die Chester Williams-uitdaagbeker op die Faure-stadion kragte gemeet.

Hierdie gebeurtenis was om hulde te bring aan die legendariese Springbok-seun van Paarl, Chester Williams, wat met sy buiging as Springbok in die Wêreldbeker in 1995 geskiedenis gemaak het.

Die gebeurtenis het plaasgevind om hulde te bring aan die waardevolle bydrae wat Williams aan die Albions- en Young Peoples-rugbyklubs gelewer het sowel as die invloed wat hy op die ontwikkeling van Young Peoples-spelers se spelstyl gehad het.

As speler was Williams fenomenaal en hy was gereeld by Young Peoples se wedstryde om sy insette aan die spanne te gee om hul rugby na nuwe hoogtes te neem. Sy dood in 2019 was ’n geweldige skok vir die hele gemeenskap.

Die wedstryd is ook opgedra aan Williams se bydrae aan die gemeenskap asook wat hy vir die Chester Williams-plakkerskamp beteken het.

Met die spanningsvolle hoofwedstryd Saterdag was die eerste spanne met halftyd 6-6- gelykop nadat elke span twee strafdoele aangeteken het.

Die Tiere se bekende stoomtrein kon egter net nie aan die gang kom nie en hulle het heelwat foute gemaak en baie strafdoele afgestaan.

Die skeidsregter moes gereeld die spel weens swak dissipline aan albei kante stop en intree. Dus is ’n paar geelkaarte uitgedeel en Young Peoples is met ’n rooikaart gestraf.

Ook ná rustyd kon die span van Young Peoples nog nie aan die gang kom nie, en het telkemale aan die fluitjie van die skeidsregter strafdoele afstaan.

Maar die titaniese wedstryd was steeds diep in die tweede helfte op ’n mespunt gebalanseer.

Albions is in die laaste 10 minute met ’n strafdoel vir nog ’n onnodige Young Peoples-fout beloon en Kyle Martinusen se skopskoen het toegesien dat Albions 9-6 voorloop.

Kort daarna het Garen Kulsen van Young Peoples weer daarin geslaag om die telling op 9-9 op die telbord te draai.

Die veggees van die Tiere het hoog geloop en Denovan Daniels het die wendrie in die laaste vyf minute gedruk. Hierna moes die span van Young Peoples in die doodsnikke van die wedstryd naby sy doellyn omtrent wal gooi om Albions weg te hou.

Die verdedigingswerk van die Tiere was goed en met die skeidsregter se horlosie wat die laaste paar sekondes afgetik het, het die eindfluitjie uiteindelik geblaas en Young Peoples kon die Chester Williams-uitdaagbeker vir 2022 omhoog hou.

Albei spanne is vir hierdie seisoen in die WP-liga se Superligakompetisies ingesluit, met Young Peoples in Super-B en Albions in Super-C, wat Saterdag (2 April) afskop, maar harde werk lê vir albei spanne voor – veral aan die front van dissipline.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article