Tydens Donderdagaand se sakeforumvergadering is uitgelig dat sake-eienaars baie bekommerd is oor swak veiligheid in veral die nywerheidsgebiede.
Bekommernis is onder meer uitgespreek oor swak beligting en veiligheid in die Donkervlietstraat-gebied waar ondernemings hier al jare deur diefstal en vandalisme en selfs gewapende rooftogte geteister word. Ook, die ligte op die hoek van Drommedaris- en Drie Bergenstraat is al ’n jaar buitewerking, wat direk tot misdaad lei, maar die munisipaliteit draai net ’n blinde oog hierna.
Hierdie sakeondernemings lewer ’n belangrike bydrae in die Drakenstein-ekonomie, en party sê as die munisipaliteit nie daadwerklik optree nie, gaan hulle hul ondernemings elders heen verskuif, soos talle eienaars van ander sakeondernemings al gedoen het.
Gerald Esau, die direkteur van gemeenskapsdienste by die munisipaliteit, meen egter hierdie is strafregtelike klagtes wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens die hoof gebied moet word.
Hy het gesê die munisipaliteit het wel ’n metaal- en kabeldiefstal-eenheid op die been gebring om in samewerking met veiligheidsrolspelers en -vennote diefstal en vandalisme in verskillende gebiede in Drakenstein die hoof te probeer bied.
Hy het gesê hierdie sake is tydens die sakeforum se vergadering bespreek en ’n opvolgvergadering sal gehou word om spesifieke veiligheidsaangeleenthede te bespreek en ’n vennootskap te vorm om te help om hierdie euwel te bowe te probeer kom.




