Sekere dinge soos kinders wat skool toe gaan met skoolskoene aan hul voete, is dikwels iets wat baie as vanselfsprekend aanvaar, maar die werklikheid is dat baie kinders nie skoolskoene het nie.

LK Zeeman Primêr in Paarl-Oos het onlangs ’n beroep op die plaaslike gemeenskap gedoen om heel skoolskoene aan hul behoeftige leerders te skenk.

Volgens Charmaine Moosa, die waarnemende skoolhoof, is die nood by dié skool groot.

Moosa sê van hul hoërskoolleerders dra sandale skool toe omdat hulle nie skoolskoene het nie.

Sy sê baie van die leerders woon ver van die skool af omdat baie van hulle leerders is wat nie plek by skole nader aan hul huise gekry het nie. Van die leerders moet van so ver as Klapmuts, Wellington, Mbekweni en Smartie Town reis om by die skool uit te kom.

“Ons doen ook aansoek vir vervoer vir leerders deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD). Die proses neem egter baie lank en totdat die vervoer nie goedgekeur is nie, moet ouers self vir vervoer betaal. Dit laat natuurlik ’n groot gat in hul sak,” sê Moosa.

Baie van hierdie leerders maak gebruik van minibus-taxi’s of ry trein, en dié wie se ouers nie vervoergeld kan bekostig nie, moet skool toe stap.

Met die oog op die seisoene wat nou ook stelselmatig verander en die winter wat nader kruip, doen Moosa ’n beroep op inwoners van Drakenstein om uit te reik na hul skool deur skoolskoene vir hul minderbevoorregte leerders te skenk.

Grys skoolsokkies vir seuns en wit vir die meisies sal ook hoog op prys gestel word. LK Zeeman moes sowat 10 jaar gelede amper sy deure sluit toe die WKOD bevind het dat die skool te min leerders vir hul multigraad-onderrigklasse het. Onderwysers en ouers het sterk teen dié besluit gestaan en die skool se deure het vir onderrig oopgebly.

Moosa sê die skool het sedertdien van 189 leerders na 770 leerders gegroei. Van die net ses onderwysers het die skool nou 20. LK Zeeman huisves nou leerders vir gr. R tot gr. 10.

Vir gr. 0 tot gr. 7 bied die skool onderrig in Afrikaans, maar van graad agt af maak die skool ook voorsiening vir leerders wat tuis Engels as eerste taal praat.

Moosa sê egter van die skool se leerders toon ernstige gedragsprobleme, wat ’n groot uitdaging vir die skool inhou.

“Dalk is dit om te verbloem wat regtig by die huis aangaan, en as jy die ‘macho’ ou is, sien niemand dit dalk raak nie. Wanneer ’n mens egter one on one met dié kinders gesels, besef jy die groot nood waarin ons kinders verkeer. Die leerder se ma en/of pa werk (as daar ’n pa is), en die kinders moet dus ná skool hul rolle tuis vervul.”

Sy sê ook die aantal leerders wat daagliks kos by die voedingskema kry, dui daarop dat ’n groot nood tuis heers.

Mense wat graag ’n skenking wil doen – van grys sokkies en skoolskoene vir seuns en wit sokkies en skoene vir meisies (grootte 4 tot 7) en ook wit skoolhemde kan skenk (12 tot 18 jaar), kan die skool by 021 862 3900 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article