Hier by ’n onlangse sakebyeenkoms is van links Nigel Barnes, Madalet Sessions, Kokkie Kooyman en Smaragda Krynauw van Denker Capital, en Anri Brits, Emile Janse van Rensburg en Max van der Wath van PSG Weath Cecilia Square.


PSG Wealth Ceciliastraat en Lange­baan het op 23 en 24 Februarie beleggingseminare aangebied, met onder andere Kokkie Kooyman (uitvoerende hoof en portefeulje­bestuurder van Denker Capital) as spreker.

Die aanbiedings het die vorm van ’n vraag-en-antwoord-sessie aangeneem, met die fokus op van die vraagstukke van die dag.

Hardnekkige wêreldwye inflasie was eerste aan die beurt. Sedert die aanbiedings het die VSA se inflasiekoers tot die hoogste vlak in 40 jaar gestyg en is hul repokoers met 0,25% verhoog. Kooyman het by die aanbieding voorspel dat daar minstens ses verhogings van 0,25% elk in die VSA sou wees. Die eerste verhoging is intussen aangekondig. Die ooglopende vraag was watter sektor of beleggingstyl hierby baat kan vind.

Volgens Kooyman is die finansiële sektor die geskikte kandidaat, aangesien koersverhogings hul winsmarges en so ook hul aandeelpryse sal laat toeneem.

Met verwysing na beleggingstyle het hy as volg verduidelik: In die algemeen is die waarde van ’n maatskappy die verdiskonteerde waarde van toekomstige kontantvloei. Sogenaamde waarde-aandele se dividende/winste is gewoonlik redelik stabiel, maar groei teen ’n laer koers as dié van groei-aandele. Met groei-aandele is die verwag­ting dat hul winste (indien enige in die beginstadium) teen ’n veel hoër koers as dié van waarde-aandele sal groei. Wanneer uitleenkoerse styg, is die huidige waarde van toekomstige dividende/winste van groei-aandele laer, aangesien toekomstige kontantvloei teen ’n hoër koers verdiskonteer word. Die keuse is dus waarde-aandele.

En toe val Rusland die oggend van 24 Februarie Oekraïne binne. Die aand van die 24ste se sessie in Langebaan was ’n somber affêre. Markte het wêreldwyd geval en oliepryse het die hoogte in geskiet. Kooyman herinner ons toe aan lesse wat ons die afgelope tyd al ’n paar keer moes leer.

Tydens ’n wêreldwye krisis oorrea­geer markte altyd. In hierdie geval is daar boonop die hartseer van lewens­verlies en vernietiging van ’n land se infrastruktuur. Maar soos in die verlede is die herstel in markte gewoonlik spoedig en is kalm bly die regte medisyne. Kooyman het afgesluit met ’n gesegde van Winston Churchill: “Never let a good crisis go to waste.” In Afrikaans: “Benut die geleenthede wat wisselvallige markte bied.”. Jac van der Spuy CFP® is ’n finansiële beplanner van PSG Wealth Cecilia Square – jac@psg.co.za.

Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 728).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article