Boelie, kuberafknouery, geslagsgebaseerde geweld, dwelmmisbruik, bendes en selfdood is van die onderwerpe wat uitgelig is by die week se vakansieprogram wat by Klein Nederburg Senior Sekondêr plaasgevind het.
Skoleveiligheid, ’n afdeling van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het die program van Maandag tot Woensdag vir gr. 8- en gr. 9-leerders aangebied. Verskeie rolspelers in die gemeenskap, soos die Paarl-Oos-polisie, kinderwelsyn, kinderbeskermingsdienste en jeugorganisasies was deel van die driedaagse program.
Lehandra “Lee” Williams van Skoleveiligheid werk baie nou saam met die skole en leerders in die Kaapse Wynland-onderwysdistrik. Sy het ook die program gefasiliteer.
“Die rede vir hierdie skoolprogram is omdat ons die kinders gekies het gegrond op die uitdagings by die skool. Die afgelope tyd het ons baie probleme teëgekom en tugverhore gehad, en dit was hoofsaaklik boelie.”
Wanneer ’n geval soos boelie aangemeld word, word die nodige stappe gevolg en ’n tugverhoor vind plaas. Williams sê die nodige hulp word aan die leerders – die oortreder sowel as die slagoffer – verskaf, afhangende van die uitspraak wat gelewer is. Williams bied self ook konflikoplossing- en woedebeheer-opleiding vir leerders aan.
“Hierdie drie dae is ’n bestek van baie goed waar ons vir hulle leer hoe om konflik te hanteer en dit op te los, en hoe om nie maklik kwaad te word nie.
“Ons help ook met selfbeeld.”
Volgens Williams plaas sy ’n boks met die woorde my worth by skoolhoofde se kantore, waar leerders enige probleme kan aanmeld. Leerders het die keuse om anoniem te bly wanneer hulle hul briefies in die boks gooi. Die boks is ook platweg bekend as die “boelieboks”. Sy besoek dan elke Vrydag skole om die briefies in die boks af te haal. Daarvandaan help Williams om die nodige hulp aan leerders te verskaf.
“As dit ’n onderwyser is wat hulle ongelukkig maak en hulle wil hê ons moet weet, of hulle wil hê ons moet persoonlik met hulle werk sonder dat hul naam geskend kan word of sonder dat hulle gesien word, kan hulle net hul briefies in die boks gooi. Ek maak kontak met hulle en doen huisbesoek ná ure, en van daar af vat ons dit verder.”
Williams se nommer is ook beskikbaar by die “my worth”-boks. Sy moedig leerders aan om haar te bel by 072 201 4247 indien hulle enige probleme van boelie tot geestesgesondheid ondervind.
- Bullying, cyberbullying, gender-based violence, drug abuse, gangs and suicide were just some of the topics highlighted at this week’s holiday support programme at Klein Nederburg Senior Secondary.





