Die konsepbegroting van die Drakenstein-munisipaliteit vir 2022-’23 is verlede week ter tafel gelê, maar in alle waarskynlikheid sal die voorgestelde tariefverhogings inwoners se voorland wees.

Dit is ’n feit dat dit vir enige munisipaliteit ’n uitdaging is om sy begroting vir sy bedryfsinkomste te laat klop. Dit behoort egter ook nie daartoe te lei dat die belastingbetalers uit hul huise belas word nie, maar dit lyk asof juis dít tans besig is om te gebeur.

Die munisipaliteit se grysskoene klop hulself ook seker op die skouer oor die rookskerm wat hulle gooi met geen verhogings in eiendomsbelasting nie. Maar, soos genoem, is dit immers net ’n rookskerm ná verlede jaar se eiendomswaardasie-fiasko waar party huiseienaars in die tande geskop is met verhogings van tot 28% – dit terwyl buur-munisipaliteite hul eiendomsbelasting-faktor met onderskeidelik 20,8% en 20,73% verlaaghet.

Drakenstein is ’n reuse-entiteit met ’n baie groot streek waarvoor hy dienste moet lewer, om nie eens te praat van hul baie hoë salarisrekening nie.

Daarbenewens beskik hulle oor ’n massiewe skuldlas wat die een of ander tyd afbetaal moet word.

Die gewone belastingbetaler kan eenvoudig nie voortgaan om hierdie reuselas te dra nie – as die koeie nie meer gemelk kan word nie, wie gaan dan die gryspaleis aan die gang hou?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article