Verlede week, byna twee jaar ná die dag toe die Covid-19-pandemie die wêreld tot stilstand geruk het, het die ikoniese Katedraalkelder van die KWV in die Paarl weer sy deure geopen.
Die geleentheid is in die byna eeu oue tradisie van die KWV met swier gevier.
Die Katedraalkelder is die hartjie van die KWV asook die handelsmerktuiste van sy vooraanstaande wynreeks, die gelyknamige Cathedral Cellar wines.
Die Katedraalkelder, ’n historiese en argitektoniese pronkstuk, is in 1930 gebou en is bekend vir sy dramatiese wynvat-vorm van die dak en loodglasvensters wat die indruk van ’n groot katedraal gee.
Dit is die tuiste van ’n indrukwekkende versameling massiewe wynvate, met die kapasiteit om 12 000 liter wyn en brandewyn te berg.
Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse wynbedryf is op sommige hiervan gekerf, wat nou as kunsskatte geag word.
Die Katedraalkelder is in 2018 vir die eerste keer formeel geopen as ’n private eet- en geleentheidsruimte vir die publiek, onder die toesig van die KWV-ambassadeur-sjef Mynhardt Joubert.
Dit het onmiddellik groot aandag gelok en hierdie lokaal is vinnig aangewys as “die mees gesogte eksklusiewe lokaal in die hele Wynland”.
Die katedraalkelder se reis is egter op 23 Maart 2020 kortgeknip toe Suid-Afrika se eerste inperking ingestel is, gevolg deur ’n reeks ander wat geleenthede en byeenkomste prakties verbied het.
“Danksy nuwe gesondheidsregulasies en (noudat) die regering die nasionale rampstatus (beëindig het), het ons gedink dit is ’n gepaste en positiewe tyd om die Katedraalkelder se deure weer te open,” het Tanya Blokdyk, die Kelder se handelsmerkbestuurder, gesê.
“Dit is ook gepas om die gees van sy Cathedral Cellar-wyne uit te lig, wat verandering as ’n vorm van ’n storie omhels – ’n essensie wat duidelik gevoel en weerspieël kan word in sy handelsmerkhuis, waar die stories, maar ook die uitdagings, van Suid-Afrikaanse wyn in ’n reeks gekerfde vate uitgebeeld word,” het sy gesê.
Met verlede week se viering tydens die heropening van die Kelder was die fokus op pers en gepas getiteld “ ’n Kulinêre reis in pers”.
Joubert, die Katedraalkelder se ambassadeur-sjef, het soos altyd ’n heerlike hoëgehalte-liplekker-maaltyd voorberei wat vir die gaste met puik Cathedral Cellar-wyne gepas is. . After just over two years of silence due to the world-wide Covid-19 pandemic, the KWV’s iconic Cathedral Cellar has been reopened and was filled again with the sound of laughter, music, great food and good wine.





