Die twee plaaslike boere wat teregstaan vir die moord op Chatwell Rogers sal weer op 18 Mei hul verskyning in die Paarl-landdroshof maak.
JT Basson en John Woest, albei grondeienaars in Klein Drakenstein, is op 30 November 2021 in hegtenis geneem nadat ’n vermeende vrugtesmous op die Sonstraalpad naby die N1 in die Paarl na bewering in die rug geskiet is met ’n haelgeweer.
Basson is ’n bekende Paarlse boer asook veteraan-kanovaarder en voormalige ANC-raadslid van die Drakenstein.
Volgens advokaat Nathan Johnson, aanklaer by die Paarl-landdroshof, het Basson en Woest op 30 Maart in die hof verskyn. Johnson sê daar was slegs besprekings gevoer in terme van ’n datum wanneer die saak in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor sal word. “Die moordsaak was nie in diepte bespreek nie. Die volgende hofdatum op 18 Mei sal slegs bepaal wanneer die saak voor die hooggeregshof hervat sal word.”




