Die Vryheidsfront Plus (VF+) het verlede week op die maandelikse munisipale raadsvergadering terugvoer ontvang oor ’n mosie wat dié party oor die huur van geboue deur die munisipaliteit by die Drakenstein-munisipale raad ingedien het.
Die raadslid Attie du Plessis het namens die VF+ in die mosie gevra oor die munisipaliteit se huur van die Nedbank-gebou en wat dit die munisipaliteit elke maand uit die sak jaag.
Luidens die terugvoer op Du Plessis se vrae betaal die munisipaliteit hiervoor R325 013,85 (BTW uitgesluit) huur per maand, maar volgens die munisipaliteit eindig dié huurkontrak op 30 Junie vanjaar en dit sal daarna nie weer hernu word nie.
Du Plessis wou ook weet of die munisipaliteit na alternatiewe vakante munisipale kantore gekyk het voordat dié huurkontrak aangegaan is en volgens die terugvoering van die munisipaliteit is nie alle munisipale eiendom geskik vir kantoorruimte nie.
Die munisipaliteit sê die geboue wat wel geskik is, word nou tot hul volle potensiaal benut en daarom sal die huurkontrak van die Nedbank-gebou nie hernu word nie.
Du Plessis wou ook weet oor die huur van die Bredastraat-gebou waar die munisipale hof tans geleë is.
Dié gebou word tans gehuur teen R85 860 (BTW uitgesluit) en akkommodeer 28 mense met die huidige uitleg.
Die munisipale hof en verkeersdienste beset die grondvloer van dié gebou ten volle.
Die munisipaliteit het wel bevestig daar is ’n moontlikheid dat hy die Bredastraat-gebou gaan koop teen sowat R8 500 000 (BTW uitgesluit) en ook dat die munisipaliteit wel hiervoor begroot het.
Volgens die terugvoering van die munisipaliteit sal die burgersentrum, Meulstraat-gebou, Bredastraat 60, Markstraat en die Paarl-toerismegebou ná 1 Julie ten volle in gebruik geneem word.




