Die ganse Drakenstein-vallei rou saam met die bekende De Villiers-familie ná die skielike dood van Theresa de Villiers (62).
Dit volg nadat die voormalige Springbok-rugbyafrigter Peter de Villiers se vrou se liggaam Maandagmiddag (4 April) in ’n swembad in Gqeberha gevind is.
Volgens die polisie is Theresa omstreeks 12:00 in die swembad by familielede se huis in die stad gevind. Die De Villiers-familie het ’n rukkie hier gewoon toe Peter die afrigter van Oostelike Provinsie se rugbyspan was. Hy het intussen sy rugbyleisels vir ’n rol as politikus verruil en is die leier van die politieke party GOOD in die Drakenstein. Peter was verlede week in die raadsvergadering in die Paarl toe die voorlopige begroting ter tafel gelê is.
Theresa het nog gereeld besoek in Gqeberha afgelê – ’n stad waarvoor sy glo baie lief was.
Sy is Maandag deur ’n familielid in die swembad gevind en was volgens inligting reeds ’n geruime tyd dood. Theresa was ten tyde van die voorval alleen daar en was in haar oefenklere geklee. Sy het gereeld soggens oefeninge gedoen.
Die omstandighede rakende die vermeende verdrinking word deur die polisie ondersoek en geen misdaad word vermoed nie.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n woordvoerder van die Gqeberha-polisie, het Dinsdag gesê die lykskouing is afgehandel, maar die polisie het nog nie die oorsaak van haar dood bekend gemaak nie. Dit word eers later die week verwag.
Dit is die tweede keer in ’n bietjie meer as twee jaar dat die De Villiers-gesin in rou gedompel is. Die egpaar se jongste dogter, Odille Monk, is in Desember 2019 op 28-jarige ouderdom ná ’n stryd teen kanker oorlede.
Volgens familievriende het Theresa die afgelope twee jaar erg gesukkel om haar dogter se dood te verwerk.
Die egpaar het nog ’n dogter, Claudia.
Nadat die tragiese nuus van Theresa se dood soos ’n veldbrand deur die vallei versprei het, het boodskappe van medelye aan die gesin inge-stroom.
Die GOOD-party het kort ná die tragiese nuus sy meegevoel aan die De Villiers-familie uitgespreek.
“Ons betuig namens die GOOD-party ons innige meegevoel met die voormalige SA rugbyafrigter en GOOD-raadslid Peter de Villiers met die tragiese heengaan van sy geliefde vrou. Theresa de Villiers is vroeër vandag onverwags oorlede.
“Mag krag, vrede en liefde jou en jou gesin omring, Coach, terwyl jy deur hierdie moeilike tyd gaan.”
Die Drakenstein-munisipaliteit het ook sy medelye met die De Villiers-gesin uitgespreek.
“Dit is met groot hartseer dat ons die nuus ontvang het van die tragiese dood van Theresa, vrou van raadslid Peter de Villiers.
Conrad Poole, die burgemeester, het sy innige meegevoel met raadslid De Villiers, sy dogter, Claudia, en die uitgebreide familie betuig. “Ons gedagtes en ons gebede gaan uit na hulle gedurende hierdie hartseer tyd. Dit is nooit maklik om ’n geliefde te verloor nie en Theresa was ’n geliefde onderwyseres en familielid. Sy het ’n groot rol in die gemeenskap vervul – nie net om kinders op ’n opvoedkundige vlak te onderrig nie, maar hulle ook toe te rus om gerespekteerde lede van die samelewing te word. Ons bid dat God die De Villiers-gesin vrede, vertroosting en genesing tydens hul routyd sal gee.”
’n Plaaslike begrafnisondernemer het Dinsdag na Gqeberha vertrek om Theresa “huis toe” te bring. Haar verassingsdiens vind Vrydag 8 April plaas by The Gathering Church in New Orleans, Paarl-Oos.
. The Drakenstein Valley mourned the tragic and sudden death this week of former Springbok rugby coach Peter de Villiers’ wife, Theresa, whose body was found in a swimming pool in Qqeberha.




