Gesie van Deventer, die Eikestad se burgemeester, staan by een van die sonpaneel-installasies by ’n gebou van die Stellenbosch-munisipaliteit.


Die Stellenbosch-munisipaliteit het verlede week die eerste tree geneem om onafhanklik van Eskom sake te doen met die bekendstelling van sy projekte om munisipale geboue van sonkrag te voorsien.

Kern- munisipale geboue in die Eikestad word tans met sonpanele toegerus, wat dié geboue minder afhanklik van Eskom se wankele kragvoorsieningsvermoë maak.

Hiermee word die Stellenbosch-munisipaliteit een van die eerste munisipaliteite in die land wat van Eskom af begin wegbeweeg het.

Maar watter stappe het die Drakenstein-munisipaliteit, wat ’n baie groter munisipaliteit as dié van Stellenbosch is, al ingestel om onafhanklik van Eskom te word?

Marius Wüst, die direkteur van ingenieursdienste van die Drakenstein- munisipaliteit, sê die DM het reeds begin met ’n poging om voldoende hernubare energie op te wek om veerkragtig ten opsigte van Eskom-beurtkrag te wees.

Hy sê ook die munisipaliteit wil nie heeltemal weg van die Eskom-rooster beweeg nie, maar wil verseker dat plaaslike verbruikers, sakeondernemings en besoekers ononderbroke kragtoevoer geniet.

“Vir die hele Drakenstein-gebied om ’n voortdurende toevoer van elektrisiteit te ontvang – 24 uur per dag; elke dag – het ons deurlopend ’n maksimum toevoer van 185 MVA (of megawatt) per maand nodig. Wanneer Eskom beurtkrag toepas, verloor ons sowat 20% van hierdie toevoer. Dit beteken dat ons alternatiewe energiehulpbron(ne) nodig het om ons van minstens 40 MVA (of megawatt) per maand, deurlopend, te voorsien.”

Wüst sê die munisipaliteit werk saam met die Wes-Kaapse regering om ’n bekostigbare kombinasie van hernubare energie-hulpbronne, soos sonkrag en windkrag sowel as alternatiewe opsies, soos gas pleks van elektrisiteit, te ondersoek.

Die Drakenstein-munisipaliteit is ook een van ses Wes-Kaapse munisipaliteite wat gekies is om aan ’n provinsiale munisipale energie-veerkragtigheid-baanbrekersprojek deel te neem. Die munisipaliteit het gepaste projekte in die Drakenstein-gebied geïdentifiseer, wat reeds deur die provinsiale projek se vooraflewensvatbaarheidsproses geëvalueer is. ’n Paar van hierdie projekte is as beginprojekte gekies.

Wüst het bygevoeg die munisipaliteit het ook ’n beleid wat die opsie aan verbruikers bied om aan selfopwekking deel te neem, met die opsie om oortollige opwekking aan die munisipaliteit terug te lewer teen ’n krediet wat gelykstaande is aan die laagste tarief waarteen die munisipaliteit dit kan aankoop. Dít is tans R0.6113/kwh.. Drakenstein Municipality is slowly but surely putting plans in place to become less dependant upon Eskom power supply.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article