Sedert Paarl Post in Februarie oor verskeie weeklikse vertragings met die verwydering van vullishouers sowel as die oplaai van herwinningsakke in Drakenstein berig het, duik net meer klagtes in dié verband op.
Die Vryheidsfront Plus het ook onlangs vrae aan die munisipale raad gestel oor die hoeveelheid herwinbare materiaal wat by huishoudings, wat deel is van die munisipaliteit se herwinningsprojek, opgelaai is en uiteindelik herwin word.
Dié party het na ’n verslag verwys wat aandui dat slegs 697,97 ton herwinbare artikels van die 1 845 ton wat die munisipaliteit ontvang, herwin word.
Dié verslag is vir die tydperk Januarie 2021 tot Desember 2021.
Die VF+ het ook genoem dat die herwinningsmateriaal met moeite deur belastingbetalers in aparte plastiese houers opsy gesit word en teen “massiewe koste” deur die munisipaliteit afgehaal word.
Die munisipaliteit het in sy terugvoer gesê herwinningsmateriaal van die bron af bevat ’n baie klein gedeelte van die algehele vullisstroom, tog is dit ’n uiters belangrike komponent in die totale vullisstroom.
Die munisipaliteit sê ook die ongeveer 60 ton wat per maand herwin word, voorsien aan ongeveer 25 entrepreneurs ’n “daaglikse, volhoubare en menswaardige inkomste”.
Die terugvoer lui verder die vermelde 60 ton herwinningsmateriaal bevat 27% plastiek, 4% polistireen, 36% papier en karton, 6% metaal en 27% glas.
“Die herwinningsmark het as gevolg van Covid-19 feitlik in duie gestort en ook as gevolg van China wat sedert 2020 ’n verbod geplaas het op die invoer van herwinningsmateriaal. Dit het ’n geweldige negatiewe uitwerking op die verkoop van herwinningsmateriaal in SA gehad.
“Vir baie jare was daar geen mark vir polistireen nie, maar gelukkig het dit intussen verander. Glas het tot onlangs geen markwaarde gehad nie as gevolg van die wynbedryf wat nie historiese verkoopsyfers kon haal nie. Bogenoemde faktore het lank bygedra tot minder materiaal wat herwin en verkoop word,” sluit die terugvoer af.
By navraag aan die Drakenstein-munisipaliteit het Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, gesê die munisipaliteit weet nie in hierdie stadium of dié verbod in geheel opgehef is nie.
Oor hoe presies die herwinningsprojek werk, het Esau gesê die “waste preneurs” is ’n bekroonde projek van die munisipaliteit. Volgens hom gee die projek ’n inkomste vir die voormalige onwettige vullisversamelaars.
Altesaam 25 waste preneurs is deel van die projek.
“Hoe dit werk, is dat die munisipaliteit die herwinbare materiaal by huishoudings in Drakenstein oplaai en dit na die Paarl-herwinningsaanleg neem, waar ons dit gratis aan die waste preneurs beskikbaar stel. Hulle verwerk dit dan daar onder die beheer van die munisipaliteit, waarna hulle dit aan plaaslike markte verkoop,” verduidelik Esau.
Die waste preneurs verdien hul inkomste uit dié verkope en ontvang nie ’n salaris van die munisipaliteit nie.
“Ons verskaf wel, saam met die Wes-Kaapse regering en ander vennote, opleiding en persoonlike beskermingsdrag aan die waste preneurs.”
Paarl Post het ook die munisipaliteit gevra om te reageer op die voortdurende klagtes wat ontvang is oor die herwinningsakke wat meer gereeld nié opgelaai word nie asook die vullishouers wat of nie op die voorgestelde dag gehaal word nie, of baie laat gehaal word.
“Dié probleem is opgelos en die Drakenstein-munisipaliteit het tans genoegsame funksionele vulliskompakteerders om ons daaglikse roetes te voltooi,” het Esau gesê.
“Die munisipaliteit laai herwinningsakke op geskeduleerde dae by wonings op. Dit kan soms later as gewoonlik gebeur weens onvoorsiene omstandighede.
“Sou inwoners enige probleme met die oplaai van vullis of herwinningsakke ondervind, vra die munisipaliteit hulle om hul wyksraadslid te kontak of die aangeleentheid aan te meld via ons SeeClickFix-toepassing of by ons tolvrye nommer by 080 131 3553.”. Besoek www.drakenstein.gov.za/seeclickfix om klagtes aan te meld of kry jou wyksraadslid se kontakbesonderhede by www.drakenstein.gov.za/about-us/political-leadership/contact-a-councillor.




