Kry jou pers-en-wit uitrusting bymekaar, kontak jou vriende en skaf kaartjies aan vir vanjaar se Pinotage- en Biltongfees by die Perdeberg-kelder tussen Durbanville en Perdeberg aanstaande naweek – Saterdag 23 en Sondag 24 April van 11:00 tot 16:00.

Agtien wynplase sal nagenoeg dertig verskillende wyne vir proe en te koop aanbied. Wyne val in ’n hele aantal kategorieë – van die tradisionele rooi pinotage tot rosé, vonkelwyn, port-styl, jerepigo tot selfs ’n wit pinotage. Elke landgoed op die fees sal ’n wyn beskikbaar hê wat saam met ’n spesifieke soort biltong geproe kan word, aangebied deur Namaqualand Biltong.

Feesgangers sal dus die geleentheid hê om pinotage te proe van Stellenbosch, Swartland, Breedekloof, Paarl, Worcester en Wellington – almal onder een reuse-tent opgeslaan buite in die kelder se parkeerterrein. Die deelnemende kelders by die fees is Badsberg-wynkelder, Bellevue-wyne, Beyerskloof-wyne, Boland-kelder, Diemersfontein-wyne, Doolhof- wynlandgoed, Doran-wingerde, Du Toitskloof-wyne, Groenland-wyne, Hill & Dale, Kanu-wyne, Koelenhof-wynkelder, Lanzerac-wynlandgoed, Leopard’s Leap, Mellasat-wingerde, Neethlingshof-landgoed, Overhex-wyne en Perdeberg-kelder.

Kitskos sal beskikbaar wees van Eat @ Perdeberg-restaurant, wat allerlei lekker en spesiaal ontwikkelde versnaperings aanbied. Items op die spyskaart sluit die volgende in: Lam-spitbraai-rolletjie met tzatziki, camembert-en-vye-roosterkoek, pinotage-pizza, rooiwyn-uie-konfyt, biefstuk-en-Gorgonzola-kaas, bunny chow, mini-kaasborde asook mini-soettand-bordjies.

In Perdeberg se Chenin Blanc-saal (op die eerste verdieping) kan besoekers die oester- en sushi-kroeg besoek, waar ook Cap Classique en bier te koop aangebied word.

Guy Feldman en sy orkes – genaamd Mista Guy and The Biltong Band – maak dit ’n dag in die wynlande om te onthou. Trek jou helderste en mees vermaaklike pers-en-wit uitrusting aan en geniet ’n kans om ’n lekker prys as besgeklede besoeker by die fees te wen.

Kaartjies by Quicket kos R300 per persoon of BBP-kaartjies R550 per persoon. Kaartjies is ook beskikbaar vir die bestuurders van voertuie wat nie wyn drink nie. Hulle sal steeds al die biltongsoorte beskikbaar by die fees kan proe.

Algemene kaartjies sluit ingang na die fees-gebied in, sitplek, ’n pragtige pinotage-en-biltong-kristalglas, 18 uitgesoekte pinotage- en-biltong-samestellings wat vooraf deur ’n paneel bepaal is, en nog nagenoeg 30 ander wyne wat te proe en te koop sal wees.

Die BBP-kaartjie sluit die bogenoemde in plus uitgesoekte private sitplekke in ’n gebied wat spesiaal vir die groep uitgesit word, ’n verwelkomingsdrankie, ligte kaasbord met aankoms, dienspersoneel, laatmiddag-koffie en ’n soetigheid om die dag mee af te sluit.

Vir meer inligting, kontak Bjorn van Oort by 084 511 1806 gedurende kantoor-ure, of stuur e-pos na bjorn@cvomarketing.co.za, of besoek www.facebook.com/PinoBiltongFest.. Een gelukkige Paarl Post-leser kan twee kaartjies vir die fees vir Sondag 24 April wen. SMS of WhatsApp die naam van die fees en jou naam na 066 484 3728.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article