Dis nie asof ek myself nie alreeds op hierdie weg bevind het nie. Dié keer is dit egter anders. Duideliker. En met soveel meer intensiteit belaai. Nie ’n steurende of negatiewe intensiteit nie. Nee, dis een wat met deurweekte, gelouterde passie, ervaring en liefdevolle omarming ingekleur word.

Wat dit meer betekenis gee, is die feit dat dit letterlik afspeel in lydenstyd. Die tyd wanneer Christene reg oor die wêreld opnuut besin oor die kruisgebeure en die wesenlike verskil wat dit op die individu se geloofsbelewenis het of mag hê. Op ‘n intiem persoonlike vlak was dit asof ek my eie golgota of lydenswegervaring op so ’n tasbare wyse beleef het. En dit wat ek op hierdie weg gewaar en ervaar het, het die mens wat ek is net meer in verwondering laat staan oor my hier wees en uiteindelike doel hier op aarde. Die ironie is dat ek hierdie lydenswegervaring deurgaan waar dit vir my gevoel het asof ek niks het om te bied nie. Asof die uitdagings rondom myself so gewigtig is dat ek nie nog plek, krag of ruimte het om iets van myself met ander te deel nie.

Wel, dis hier waar ek een van my grootste lydenstydlesse begin leer het. Een daarvan is om midde-in jou eie swaarkry nie op die self te fokus nie, maar juis raak te sien – ook die pyn, hartseer en lyding van ander. Nie net raak te sien nie, maar om ook fisiek nader te staan en ’n hand uit te steek. Dit het my onmiddellik laat terugdink aan ’n tydperk toe ek ook deur ’n soortgelyke moeilike tyd in my lewe gegaan het en hoe ek deur my betrokkenheid by ander se omstandighede my eie heling ontvang het.

So, wat ek het gesien en waargeneem?

Ek het gesien en ervaar daai dag toe ek sprakeloos moes toekyk hoe ’n ma letterlik haar laaste uit die beursie leegmaak om ten minste net die broodnodigste vir die dag aan te skaf. Die sakkie wortels wat moes bykom haal sy half skamerig uit die mandjie, want dit is ’n paar rand oor die totaal wat sy op die kasregister-venstertjie sien. Ek probeer my brein dissiplineer om nie te dink aan hoeveel monde die karige paar kosgoedjies later die aand moet voed nie. Dis nie net sy nie, dink ek by myself. Hierdie is ’n eerlike refleksie van wat soveel van ons, veral oor die afgelope jaar of twee, so eg aan eie lyf ervaar. Dis die kinderhandjie wat die pakkie “bigga chips” wou hê wat my beweeg het om dit, tesame met die wortels by my paar goedjies te sit. Daai sagte “dankie meneer” bly my by.

Ek het die noodkreet van ’n gesin aangehoor wat raadop is oor die krisis waarin hulle vasgekeer is met ’n seun seun wat vernietiging saai met sy verslawing aan dwelms. Hoe die eens slim en vrolike kind van hulle in ’n monster ontaard het en vir wie die soektog na die volgende high die hoogste daaglikse prioriteit begin raak het. En die absolute magteloosheid en verslaenheid van ouers wat nie meer weet wat om nog vir hul kind te doen nie. En skielik het my eie uitdagings na ’n nietigheid begin klink.

Dis egter ook die raaklees en sien van omstandighede en situasies van ander wat my opnuut tot die besef laat kom het dat ander se lydensweg net soveel swaarder is as my eie.

En dis hier waar die pendulum begin swaai het. Positief begin swaai het. In stede van myself jammer kry oor my eie sogenaamde “groot uitdagings” kon ek myself begin vereenselwig met die lyding en swaarkry van ander. En my troos daarin vind dat ons almal op een of ander wyse ’n lydensweg het wat ons in hierdie tyd deurmaak.

Die grootste troos wat ek die keer op so ’n tasbare wyse kon ervaar, is dat Hy wat die pad na Golgota enduit vir my en ons gestap het, bewus is van ons aardse lydensweg. Nie net bewus is daarvan nie, maar ons ook elke dag dra en versterk op hierdie weg. En in die proses word ek een met en verstaan ek die Golgota-storie beter. Vind daar ’n verdieping plaas in my geestelike reis op aarde en word ek meer mens om ’n daar-wees-mens vir ander te word en om sodoende lof en aanbidding te bring aan Hom wat ons die genade daartoe skenk.

In en deur die lyding en swaarkry van ander het ek begin leer om my seëninge opnuut te begin tel. En op my eie lydensweg het ek op die vreemdste wyses die bemoediging en aanmoediging van hulle, naby en ver, begin ervaar. Die einste aanmoediging en bemoediging wat my die versekering kom gee het dat ek nie alleen is nie. Dat uit die swaarkry en lyding ’n nuwe hoofstuk, dieper geestelike ontwaking en onblusbare hoop gebore kan word.

Geseënde Paasfees vir jou!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article