Tafeldruifboere pronk vanjaar met ’n rekordoes, en die oesseisoen is nog nie heeltemal verby nie.
Die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (Sati) sê die meeste produsente het klaar geoes en tot dusver lyk die oes- en uitvoersyfers baie goed. Die oesseisoen, wat amper klaar is, het tot dusver 76 581 403 kartonhouers tafeldruiwe opgelewer teenoor verlede jaar se inname van 73 miljoen. In 2020 was die algehele inname 66,15 miljoen houers.
Vanjaar se oes gaan dus na verwagting 5,5% meer wees as verlede jaar en 17,23% meer as in 2020.
Ná 13 weke se oes is dit nog net die Hexrivier-gebied wat oes, en dit sal binnekort klaar wees.
Volgens Sati is die gehalte van die druiwe ook uitstekend, en hoewel hierdie streek in die laaste deel van die seisoen verskeie struikelblokke gehad het, soos reën en die kleur van die crimson-variëteit, is die gebied steeds op koers om sy geraamde inname van 24,3 miljoen kartonhouers te bereik.
Die bedryf het, soos ander vrugtebedrywe, ook vanjaar ’n paar struikelblokke gehad, wat produksie en uitvoer geraak het.
Weerstoestande, inflasie, stygende insetkoste, logistieke probleme en die oorlog in die Oekraïne is van die groot probleme wat die bedryf dié oesseisoen moes trotseer.
Sati sê ondanks die vele uitdagings verwag hy om vanjaar ’n rekorduitvoerjaar aan te teken.
Volgens Agrihub staan die uitvoersyfer van tafeldruiwe ná 13 weke op amper 65 miljoen kartonhouers. Verlede jaar is net oor die 68 miljoen kartonhouers uitgevoer en in 2020 is sowat 61,1 miljoen verskeep.
Derick Clift, ’n plaaslike tafeldruifboer, sê die seisoen het ongeveer 10 dae later as gewoonlik begin en die latere variëteite het met suiker en kleur gesukkel. Hy sê egter die gehalte van die oes in die geheel was wel baie goed en ook effens beter as dié van vorige jare. Hy sê die groei kan toegeskryf word aan aanplantings en nuwe variëteite met hoër opbrengste.
Die Europese Unie was verlede jaar die grootste mark vir Suid-Afrikaanse tafeldruiwe (53%).





