’n MSc-graduandus van die Universiteit Stellenbosch, Carla de Beer van Ceres, is op ’n missie om mense meer bewus te maak van duif-ertjies, een van die wêreld se vele sogenaamde “weesgewasse”.
Sy doen dit, letterlik, een falafel op ’n keer, en het selfs ’n aanlyn resepteboek genaamd World Peas saamgestel met duif-ertjies as hoofbestanddeel.
De Beer het op 6 April vanjaar haar MSc in plantbiotegnologie van die Universiteit Stellenbosch ontvang.
Sy is van Ceres en werk vir ’n agrimaatskappy in Wellington. Sy hoop om eendag haar gedroogte, klaargemaakte mengsel vir falafels, gemaak van duif-ertjies, in gesondheidswinkels en by kleinhandelaars te sien.
Haar navorsing was deel van ’n veel groter driejaar-projek wat deur dr. Shaun Peters gelei is en deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) gefinansier is. So is meer vasgestel oor die voedingswaarde van duif-ertjies en die potensiaal daarvan as ’n sogenaamde “klimaatslim gewas”, en gefinansier is deur die NNS.
Duif-ertjies (Cajanus cajan) is ’n peulgewas wat wyd in Asië, die Karibiese Eilande en dele van Afrika geëet word. Dit dien ook as ’n voergewas en dekgewas.
Dit word nog nie kommersieel in Suid-Afrika verbou nie.
“Dit word ’n weesgewas genoem omdat daar nog nie veel gedoen is nie wat betref navorsing om te bepaal watter eienskappe van belang kan wees vir landbou, voedselsekerheid en voeding. Sy genoom-volgorde is darem onlangs bepaal en dit het nuwe weë vir navorsing geopen,” sê Peters. “Ons wil deur ons navorsing wys wat in hierdie peulgewas sit.”
Duif-ertjie-resepte
’n Mens kan plaaslik gedroogte duif-ertjies koop, of soms ook as ’n meel kry. Al hierdie voorraad word ingevoer.
“ ’n Mens kan dit vir soveel meer gebruik as net vir die tradisionele dhal, of kerries,” sê De Beer, wat lief is vir kook en self vegetariese geregte verkies.
Tydens haar studie het sy duif-ertjies gebruik om onder meer pastas (wat gewoonlik van koring gemaak word) te maak, asook vleislose hamburgers en peusel-skyfies.
Toe sy nie ’n resep vir diepgebraaide balletjies duif-ertjie-falafels aanlyn kon vind nie, het sy besluit om haar eie klaargemaakte falafelmengsel te vervolmaak. Falafels word dikwels saam met slaaie en broodjies gebruik, veral deur vegetariërs, en word tipies van kekerertjies of fava-bone gemaak.
De Beer gebruik Midde-Oosterse geure soos komyn, koljander, sesam en knoffel in haar falafel-resep. Sy is ook geïnspireer deur geregte wat sy geëet het terwyl sy vroeg in 2020 in Indië was as deel van die Global Citizens Project van die Frederik van Zyl Slabbert-stigting vir studenteleierskap-ontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch.
Sommige van die resepte wat in haar resepteboek ingesluit is, is gedurende grendeltyd eerste op haar huismaats in Stellenbosch getoets.
“My arme huismaats! Ons kombuis het dikwels daaronder gely,” erken sy.
Nadat sy tevrede was met haar resep, het die laboratorium vir sensoriese navorsing in die US se departement voedselwetenskap met die nodige sensoriese analise van haar gereg gehelp. “Ek het suksesvol gewys dis heeltemal moontlik om ’n lewensvatbare verbruikersproduk, ’n falafelmeel van duif-ertjies, te maak, wat in winkels verkoop kan word,” sê sy.
Voedingswaarde
Haar navorsing het egter nie net gegaan oor regstaan in die kombuis nie.
De Beer het die voedingswaarde van die doppe rakende vars duif-ertjies bestudeer. Dit word gewoonlik verwyder en weggegooi wanneer die ertjies gedroog of tot meel gemaal word.
De Beer het in 2020 geregistreer vir haar MSc-studies, net voordat die Covid-19-pandemie begin het.
Die IPB-span se “vasbyt”-houding het haar gehelp om haar studie binne twee jaar te voltooi. En volgens haar studieleiers was daar heelwat pret in die proses!
Sy het bevind dit is baie hoog in sowel gesonde antioksidante en weerstandige stysels – selfs meer as in kekerertjies.
Sy het ook duif-ertjies se vermoë om koolhidrate en stysels te stoor, bestudeer en watter gesondheidsvoordele in die landrasse van duif-ertjies waarmee kleinskaals in Suid-Afrika geboer word, aangetref word.
Hiervoor is duif-ertjies onder meer geoes uit die groentetuin van dr. Peters se ouers in Kaapstad, en dit is daarna op Stellenbosch bestudeer.
Sogenaamde totale stysel, wat as glukose in die bloedstroom vrygestel word, bestaan gewoonlik uit weerstandige stysel sowel as oplosbare stysel. Laasgenoemde stel glukose vinniger vry, wat dit ’n meer ongesonde soort stysel maak vir mense.
Deur haar studies het De Beer bevind dat duif-ertjies ’n hoë vlak weerstandige stysels bevat.
“Dit is byna onmoontlik vir ons spysverteringstelsel om weerstandige stysel te prosesseer, maar ons verwys steeds daarna as ’n sogenaamde ‘goeie’ stysel.
“Dis omdat dit die mikrobioom in ons ingewande verbeter, wat belangrik is vir ’n gesonde algemene stelsel. Namate dit stadig deur ons ingewande beweeg, breek bakterieë dit af in suikers, en voed daarop as energiebron,” verduidelik dr. Bianke Loedolff, De Beer se studieleier.
Duif-ertjies in Suid-Afrika
Duif-ertjies is baie gewild in Asiese lande soos Indië.
“Dit word nog nie kommersieel in Suid-Afrika verbou nie, maar jy sal dit tipies in huis-tuine of by kleinboere in KwaZulu-Natal en Limpopo kry,” sê dr. Peters.
Duif-ertjie-variëteite wat in Suid-Afrika gekweek word, is vermoedelik ná die koms van Indiese kontrakarbeiders in die 1800’s gebruik.
Dit lyk asof die plante by plaaslike klimaatstoestande aangepas het en in geneties verskillende landrasse ontwikkel het.
Dr. Peters meen Suid-Afrikaanse boere moet begin kennis neem van duif-ertjies omdat hulle droogtebestand is en ’n hoë markwaarde het.
“Hierdie ertjies is ’n uitstekende bron van voeding vir mens en dier en kan in wisselbou-gewasstelsels gebruik word om stikstof in die grond te bind.”
De Beer is een van vyf MSc-studente wat tussen 2019 en 2021 aspekte van duif-ertjies bestudeer het as deel van ’n NNS-gefinansierde projek wat drr. Peters en Loedolff gelei het.
Sewe honneursstudente het reeds suksesvol afstudeer en die program se eerste PhD-student sal aan die einde van 2022 kwalifiseer.
In die proses is agronomiese eienskappe, die voedings- en genotipiese profiele en hul vermoë om klimaatstres te weerstaan, en voordele vir menslike gesondheid en voeding van Suid-Afrikaanse duifertjie-landrasse bestudeer.
“Hierdie inligting bied ’n basislyn vir toekomstige Suid-Afrikaans geleide teelprogramme wat kan lei tot produksie in Suid-Afrika omdat dit ’n alternatiewe gewasmodel met hoë waarde is,” sê Peters.. Laai De Beer se aanlyn resepteboek vir duif-ertjies, getitel World Peas, af by die volgende skakel: https://www.canva.com/design/DAEv4AdFvm8/elfTWmLzmIArZo8B-DDOyQ/view?utm_content=DAEv4AdFvm8&utm_campaign=designshare&utm_medium=link&utm_sour#1





