Die Young Peoples het die eerste kampioen in die Paarlstreek-7’s-reeks geword nadat hy ’n oorwinning van 24-7 oor Simondium in die eindronde behaal het.
Die Tiere het Paarl-rugbyklub in die halfeindronde 17-0 verslaan terwyl Simondium verras het en Laer Paarl met 17-7 in die ander halfeindronde geklop het.
Denovan Daniels van Peoples het ’n uitstaande dag beleef en is ook gepas as die speler van die toernooi aangewys.
Paarl het Laer Paarl behoorlik in die stof laat byt met ’n oorwinning van 26-0 vir die derde plek.
Paarl Rangers het die plaat-eindronde teen die genooide span Evergreens Van der Stel met 31-0 gewen terwyl Young Standards met die laaste beweging van die wedstryd Vineyards met 12-10 geklop het en sodoende as die Bowl-kampioen gekroon is.
Die wedstryde is in goeie gees voor ’n groot skare gespeel, wat die behoefte aan Paastoernooie in die Drakenstein-gebied bevestig het, en die plan is om die toernooi ’n jaarlikse instelling te maak waar alle rugbyklubs van die Drakenstein-gebied voorkeur sal kry om deel te neem.
Hierdie sentiment is deur Conrad Poole, die burgemeester, in sy openingstoespraak beklemtoon.
Die organiseerders bedank alle borge, toeskouers, spelers, mediese personeel asook die burgemeester vir hul bydrae om die dag ’n sukses te maak en glo hierdie toernooi sal tot die grootste van sy soort in die Boland groei.





