Inwoners van Simondium het verlede Donderdag (21 April) ’n munisipale vergadering weens ongelukkigheid tot stilstand gebring. Dít terwyl hul raadslid Calvin Kroutz en die uitvoerende onderburgemeester Gert Combrink teenwoordig was.
Gerald Esau, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, sê die optog het tydens die munisipaliteit se geskeduleerde Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) se opedag by die Simondium-gemeenskapsaal plaasgevind.
Sers. Charlene Pietersen, Groot Drakenstein-polisiewoordvoerder, het ook die onluste bevestig. Die betoging het handuit geruk toe betogers klippe in die straat gepak en bande op die Watergat-pad gebrand het.
“Daar was onluste en dit gaan oor behuising. Die mense was oproerig, want hulle het ’n vergadering met die munisipaliteit gehad. Inwoners se humeure het opgevlam omdat hulle voel die beloftes word nie nagekom nie.”
Combrink en Kroutz het probeer om die gemeenskap tot bedaring te bring, maar inwoners wou nie met hulle praat nie.
- “Die betogers het stoele en tafels in die saal omgekeer, waarna die polisie se eenheid vir openbare orde moes intree en die optoggangers van die perseel verwyder. Geen beserings is aangemeld nie,” voeg Esau by.





