Ons, die bruin gemeenskap van Simondium, wil baie graag ons misnoeë uitspreek oor hoe ons gemeenskap afgeskeep word.
Simondium se gemeenskap is in die apartheidsjare uitmekaargeskeur deur die destydse regering se groepsgebiedewet, wat diskriminerend was teenoor dié wat nie wit was nie.
Ons het almal gebid dat God verandering moet maak, wat wel in 1994 gebeur het toe ons in alle mag die ANC die geleentheid gegee het om veranderings te bring.
Die Wes-Kaap se oorgangsregering onder leiding van Hernus Kriel wou toe steeds die gedwonge verskuiwings laat plaasvind terwyl ons reeds in ’n demokratiese bestel was.
Die DA-munisipaliteite in die Wes-Kaap glo steeds dat die armes van Suid-Afrika nie regte het nie.
Drie jaar gelede het die DA-raadslid belowe dat huise binne ’n jaar in Simondium gebou sal word. Wat het van daardie beloftes geword, meneer die burgemeester? U sit daar en laat toe dat die DA net rykmansontwikkelings goedkeur.
Ons mense in landelike gebiede moet nou plek maak vir die rykes met gedwonge verskuiwings na Vlakkeland-ontwikkeling.
Wanneer ons mense nie wil gaan nie, word hulle voor die hof gedaag, wat hulle ook nie kan bekostig nie.
Ons vra ook vir die president van Suid-Afrika:
Mnr. die president, waarom laat u toe dat die armes steeds in Suid-Afrika verdruk word en dat “volkstate” soos rykmansplekke ontwikkel word?
Simondium se mense wag al van 1956 af vir beloofde behuising wat tussen die Ysblokke, die huise wat ons bewoon het, tot by Simondiumstasie gebou sou word.
Dit is hoekom die mense van Simondium moeg is daarvoor dat hul kinders in die plakkerskamp gebore word en daar grootword.




