Inwoners van Chicago in Paarl-Oos is die afgelope naweek die geleentheid gebied om tydens die eerste Reimagine Chicago–byeenkoms idees te gee oor hoe om hul woonbuurt in ’n beter, skoner en veiliger omgewing te verander.
Die doel van die projek is om inwoners en belanghebbendes aan te moedig om te dink aan al die mooi dinge waarvoor hulle vir hul woonbuurt hoop. Die geleentheid is deur meer as 400 inwoners bygewoon en het hulle die kans gegee om hul kreatiewe idees neer te pen en aan die organiseerders by die interaktiewe stasies wat op dié dag opgerig was, te gee.
Saterdag is op die herverbeelding van ’n gedeelte van die pad tussen Springbok- en Duikerstraat gefokus. ’n Driedimensionele model van die straat is vertoon en het oud en jonk gelok. Baie het ook uitgewys waar veiligheid in die omgewing verskerp moet word.
Dit was die eerste van nog baie soortgelyke samekomste.
Die projek word gelei deur Ranyaka Community Transformation, ’n stedelike beplanningsonderneming en organisasie sonder winsbejag. Amy Levendal, Ranyaka se belanghebbende- en verhoudingsbestuurder, sê dit is net die begin van die reis om Chicago te herverbeel.
“Dit was bemoedigend om te sien hoeveel kinders en jongmense opgedaag het om hul idees te deel. By een van die interaktiewe stasies moes inwoners aandui of hulle aktief betrokke wil wees om van hul gemeenskap ’n beter plek te maak, en die oorweldigende reaksie daarop was ja.”
Die Reimagine Chicago-projek vorm deel van die Chicago-ontwikkelingsinisiatief. Die inisiatief word deur Nederburg-wyne en die Nedbank Proud of my Town-program gefinansier.
“Dit is net die begin van ’n reis om Chicago te herverbeel, selfs verder as hierdie gedeelte van die strate. Sodra ons gewys het dat ons een gebied doeltreffend kan aanpak en dat plaaslike belanghebbendes aan boord is om aktief aan die transformasie van hul gebied deel te neem, kan ons selfs verder herbedink,” sê Levendal.
“Ons wil graag ons borge bedank, sowel as elke plaaslike belangegroep wat nie net aan hierdie geleentheid deelgeneem het nie, maar wat saam met ons gereis het in die groter Chicago-ontwikkelingsinisiatief sedert die ontstaan daarvan.
“Gemeenskapslede was oor die afgelope twee en ’n half jaar betrokke by beplanning- en ontwerpsessies en ’n aantal praktiese, op-die-grond-projekte is tot op hede gefinansier en geïmplementeer.
“Die Reimagine-geleentheid is die volgende stap in die reis en bied aan inwoners ’n selfs groter geleentheid om betrokke te raak by die vorming van ’n beter toekoms vir hul gemeenskap.”
Vir meer inligting rakende die projek en hoe om betrokke te raak, stuur ’n e-pos aan Amy Levendal by amy@ranyaka.co.za.. This weekend residents of Chicago were given the opportunity, during the Reimagine Chicago gathering, to give their ideas on how to create a better, cleaner and safer environment in their own community.





