’n Wakende oog word tans oor die stygende aktiewe Covid-19-getalle oor die hele land gehou.
Dr. Joe Phaahla, die minister van gesondheid, het Vrydagoggend gesê kommerwekkende tekens word in die styging in Covid-19-gevalle in Suid-Afrika gesien. Altesaam 4 406 gevalle is Donderdag 21 April aangemeld teenoor net 2 846 die vorige dag (Woensdag 20 April). Die meeste gevalle is in Gauteng aangemeld en die Wes-Kaap het die derde meeste gevalle in die land.
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het Sondag gesê 3 222 nuwe Covid-19 gevalle is aangemeld en Dinsdag is 5 062 Covid-19 gevalle in SA aangemeld.
Volgens Sandra Maritz, woordvoerder van die departement gesondheid in die Kaapse Wynland, is ’n geringe toename in nuwe Covid-19-gevalle die week van 18 tot 22 April in die Kaapse Wynlande asook die Drakenstein opgemerk.
“Teen Vrydag 22 April is 298 aktiewe Covid-19-gevalle in die Kaapse Wynland aangemeld, waarvan 105 in die Drakenstein was,” het Maritz gesê.
Maritz het ook gesê teen 22 April is 215 362 inentings in die Drakenstein toegedien en ’n afplatting in die infeksiekoers heers steeds hier.
“Sub-variante van Omikron is in SA geïdentifiseer, maar in die Wes-Kaap is Omikron steeds die oorheersende variant. Terwyl kenners nog inligting oor die sub-variante insamel, wil ons beklemtoon dat Covid-19-entstowwe doeltreffend is en steeds baie belangrik is om Covid-19 te bestry.”
Sy sê weens die veranderende weerstoestande word verwag dat meer mense griep en ander respiratoriese siektes kan opdoen. “Dit is veilig om jou Covid-19-entstof in een arm te kry, en by dieselfde geleentheid die griep-entstof in die ander arm. Ons fasiliteite sal gereed wees om pasiënte hiermee te help. Dit neem tussen twee en drie weke vir die griep-entstof om jou beskerming teen griep te bied, dus word inwoners aangemoedig om solank die entstof te kry. Veral mense van 65 en ouer, swanger vroue en mense met kroniese toestande word aangeraai om die griep-entstof te kry.”
Volgens Maritz word mense wat in hierdie tyd verkoue of griepsimptome ervaar, aanbeveel om ’n antigeentoets by een van die klinieke te ondergaan indien hulle simptome het en ouer as 40 jaar is. Dit geld ook iemand met ’n kroniese toestand (ongeag ouderdom), gesondheidswerkers en mense wat binne die daaropvolgende drie dae ’n operasie of ander mediese prosedure moet ondergaan.
Inwoners kan hul entstof of versterkingsdosis by een van die plaaslike klinieke kry.



