Kookolie het in net een maand 18% duurder geword – ’n byna ongekende styging vir enige produk in ’n enkele maand – en dis ’n astronomiese 42% duurder as ’n jaar gelede.
Vyf liter kookolie kos nou R177,23. Dis R52,35 meer as ’n jaar gelede.
Dié styging kom te midde van ’n dreigende wêreldwye tekort aan kookolie omdat Rusland die Oekraïne, wat 46% van die wêreld se sonneblomolie produseer, ingeval het.
Die voortslepende oorlog beteken ’n derde van die grond wat gewoonlik met sonneblom en mielies beplant word, lê nou – in die noordelike halfrond se lente – braak, berig The Guardian.
Kleinhandelaars soos Woolworths het begin om ’n perk te plaas op hoeveel kookolie verbruikers op ’n keer mag koop omdat mense uit vrees vir tekorte en groot prysstygings begin olie opgaar.
Olie is egter nie die enigste basiese kossoort waarvan die prys tans baie skerp styg nie. Polonie is 31% duurder as ’n jaar gelede, appels 20% duurder en bevrore hoenderporsies 13%.
Aartappels het van Maart tot April 9% duurder geword. ’n 10 kg-sak kos nou R69,48, oftewel R5,77 meer, as in Maart.
Die 44 kossoorte wat huishoudings in arm woonbuurte koop, is saam ’n hele 8,2% duurder as ’n jaar gelede.
Die gemiddelde kosrekening vir dié huishoudings is nou R4 542,93 per maand, wat R344 meer is as in April 2021 en R92,84 meer as in Maart.
Net die produkte wat huishoudings eerste aanskaf – wat nie rooivleis, suiwelprodukte of vrugte insluit nie en net die mees basiese groente, soos uie en aartappels – is 8,4% duurder en kos nou R2 414,09 vir ’n maand se voorraad vir uitgebreide gesinne van tot sewe mense.
Dié syfers kom uit die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) se maandelikse opname van huishoudelike bekostigbaarheid wat in arm woonbuurte van Kaapstad, Johannesburg, Durban, Springbok en Pietermaritzburg gedoen word.
Volgens Mervyn Abrahams, ’n programkoördineerder, kan die skerp stygings toegeskryf word aan eksterne faktore soos die oorlog in die Oekraïne, die skerp styging in brandstofpryse en die swakker rand teenoor die dollar.
“Die baie hoër produksie- en logistiekkoste sal pryse aanhou hoër dryf en dit gaan waarskynlik die res van vanjaar styg.” Die April-opname is voor die onlangse oorstromings in KwaZulu-Natal gedoen en Abrahams reken dié ramp gaan kospryse ook beïnvloed.
Die enigste ligstraaltjie wat kospryse betref, is dat tamaties nou goedkoper is as ’n jaar gelede nadat die prys daarvan verlede jaar skerp gestyg het. ’n Pak met 6 kg tamaties kos nou R113,13 – dit is 18% of R24,05 minder as in April 2021.
Volgens mense wat die opname doen op grond van hoe hulle self inkopies doen, is dit onbekostigbaar om selfs net die mees basiese kossoorte te koop. Hulle word genoop om selfs minder hiervan te koop. Baie moet elke maand geld by vriende, familielede en mikroleners leen om kos op die tafel te sit.
Om geld te bespaar, word talle varsprodukte uitgesny. “Daar is geen kleur op die bord nie. Dag ná dag word dieselfde kos geëet. Niemand eet behoorlik nie.”
Dié produkte word die vinnigste duurder (April 2021 tot April 2022):
Olie: 42%
Polonie: 31%
Beeslewer: 21%
Hoenderlewers: 20%
Appels: 20%
Botterskorsie: 18%
Koffieverromer: 16%
Margarien: 13%
Stowebeesvleis: 13%
Bevrore hoenderporsies: 13%
Spinasie: 13%
Net dié basiese produkte is goedkoper (dalings van April 2021 tot April 2022):
Tamaties: -18%
Wortels: -5%
Rys: -4%
Soppoeier: -3%
Blokkies aftreksel: -3%
Soetrissie: -1%
• Bron: Netwerk24




