Die lang wag is amper verby en dis tyd vir die eerste twee van vyf Herlaai-konserte, wat vanjaar gehou word.
Herlaai is ’n landswye konsertreeks wat pronk met name soos Spoegwolf, Bok van Blerk, Refentse en Elandré Schwartz.
Dié kunstenaars gaan ’n verhoog in ’n vertoning van vier en ’n half uur deel. En die beste? Hulle kom na jou toe!
Die konsert word in vyf verskillende dorpe oor die land heen aangebied en maak op 21 Mei ’n draai in die Paarl by Faurestraat-stadion vanaf 16:30.
“Ons wil Herlaai ’n jaarlikse instelling maak,” sê Rex van Deventer, die uitvoerende vervaardiger. “Die moontlikheid bestaan dat selfs nóg kunstenaars by die 2022-program gevoeg kan word.”
Die organiseerder Duitser Bosman sê hulle het met Covid-19 besef dat alles nie meer in die stede gaan sentreer nie.
“Tesame met die honger vir goeie massavermaak het ons gedink die publiek sal byval vind as ons die beste Afrikaanse sangers na hulle toe bring om ons almal se batterye vir die nuwe lewe ná die afgelope twee jaar te herlaai.”
’n Gedeelte van die opbrengs gaan aan die President Kruger-kinderhuis in Pretoria geskenk word.
Kaartjies kos tussen R214 en R380 en kan bekom word by www.ticketpro.co.za. Toegang vir kinders onder 2 is gratis. Besonderhede kan by www.herlaai.co.za gevind word.




