Elke jaar op 12 Mei is dit Internasionale Verpleegsterdag omdat die bekende verpleegster Florence Nightingale (gebore 12 Mei 1820) op dié dag verjaar het.
Sy was ’n rykmansdogter wat eerder besluit het om ’n nederige bestaan te voer om as verpleër siekes vanuit alle oorde by te staan. Sy het so ’n ikoon en simbool van verpleegkunde geword en bekend gestaan as The Lady with the Lamp.
Ek wil dus deur middel van die media die duisende verpleegkundiges wat in dié besonderse beroep diens van onskatbare waarde lewer, só bedank: Dit is altyd ’n voorreg om na julle te kan uitreik, vreugde en hartseer te deel, maar ook te weet dat die wat vrylik gee mildelik sal ontvang. Die verpleegkundige het net die slag om sonskyn te bring met wat hulle doen of sê.
Baie dankie vir alles wat die verpleegkundiges vir die pasiënte beteken het. Dit word baie waardeer.
’n Jaar vol voorspoed en sukses word die verpleegkundiges toegewens.




