Meer as vyf jaar gelede is skakelaars die een ná die ander in huishoudings in Drakenstein geïnstalleer wat hul warmwatertoestelle sekere tye afskakel met die hoop om elektrisiteit te bespaar.
Maar werk hierdie toestelle steeds en word warmwatertoestelle steeds daagliks outomaties afgeskakel?
Volgens Marius Wüst, uitvoerende direkteur: ingenieursdienste, by Drakenstein-munisipaliteit, word warmwatertoestelle steeds weeksdae soggens en saans afgeskakel as deel van Eskom se projek om die vraag na elektrisiteit te bestuur.
Volgens Wüst bedryf die munisipaliteit steeds die stelsel soos dit geïnstalleer is deur Eskom om die vraag na elektrisiteit te beperk.
Gedurende die wintermaande in Junie, Julie en Augustus word die toestelle saans van 17:30 tot 19:00 afgeskakel.
Die res van die jaar word warmwatertoestelle van 18:00 tot 20:00 afgeskakel.
Wüst sê dwarsdeur die jaar word toestelle soggens, slegs op weeksdae, tussen 08:00 en 10:00 afgeskakel.
Paarl Post wou ook by die munisipaliteit vasstel of al die nuwe ontwikkelings se huise wat oor die jare in Drakenstein gebou word se warmwatertoestelle ook met hierdie skakelaar toegerus word, juis omdat die beurtkrag steeds met ons is.
“Die uitbreiding van hierdie stelsel is baie duur en nie noodwendig effektief in terme van besparing nie, daarom word die sisteem deurlopend gemonitor om te bepaal wanneer en hoe dit uitgebrei kan word,” het Wüst gesê.



