Die jare lange raaisel oor die herlewing van De Kraal bly steeds op talle se lippe.
Maar ondanks groot beloftes tien jaar gelede dat hierdie belangrike historiese sportgerief van die Paarl tot sy vorige glorie uitgebrei sal word, blyk dit die ontwikkeling het ’n stille dood gesterf.
Die stuk oop grond in Hugenote is deurweek van die gebied se sportgeskiedenis en kultuur.
Die Drakenstein-munisipaliteit het in 2014 reeds ’n konsultant aangestel om die openbaredeelnameproses te behartig. Hieruit het dit geblyk die gemeenskap is dit eens dat De Kraal se geskiedenis as sportfasiliteit eerbiedig moet word.
Hierna het die munisipaliteit in beginsel geld vir die herontwikkeling van De Kraal beskikbaar begin stel.
Die Drakenstein-munisipaliteit het in 2018 aan Paarl Post gesê die ontwikkelingsplan vir De Kraal sal uit vier fases bestaan, wat oor vier jaar ingestel word, met die boekjaar 2017-’18 as die eerste jaar. Volgens die munisipaliteit sal die nuwe De Kraal-sportkompleks nie net twee rugbyvelde hê nie, maar ook ’n krieketveld, netbalbaan, paviljoen, klubhuis en ’n museum.
Die afgelope vyf jaar is slegs ’n muur om die perseel gebou en bome is verwyder.
Ook, volgens betrokkenes by die Paarl-sportkode, wat hulle reeds jare lank vir die herontwikkeling van De Kraal beywer, het die ontwikkeling volgens hulle tot stilstand gekom.
Gerald Esau van Drakenstein-munisipaliteit het by navraag gesê dat De Kraal word in verskillende fases oor verskillende jare ontwikkel namate geld beskikbaar gestel word.
Die konstruksiefases is as volg:
- Fase 1: Verwydering van bome; installasie van stormwaterafvoer en grensmuur (R9 miljoen).
- Fase 2: Grondverskuiwing, verf, installering van besproeiing en stormwaterafvoer (R3 miljoen).
- Fase 3: Bou van kaartjieskantoor en plant van gras vir velde (R2,4 miljoen).
- Fase 4: Ablusiegeriewe en parkeerterrein (R5 miljoen).
Esau het gesê dat die huidige fase behels die konstruksie van ’n kaartjieskantoor en plant van gras vir velde. Die volgende fase hang steeds af van begroting.




