Museumdag word wêreldwyd jaarliks op 18 Mei gevier met die doel om mense bewus te maak van die waardevolle artikels wat in museums te sien is en ook om mense bewus te maak van die belangrike rol wat museums speel.
Museums bevat versamelings van beide kulturele en natuurlike erfenis wat terugdateer van die steentydperk tot die hede. Hierdie versamelings en hul verwante inligting is primêre bronne van inligting en bied besoekers ’n blik op die verlede van spesifieke groepe, omgewings of gemeenskappe. Die fisieke artifak / ekofak / voorwerp en eksemplare bied aan leerders en besoekers die geleentheid om met werklike artifakte in aanraking te kom.
Die Covid-19-pandemie het museums ongelukkig ook hard getref, maar hulle is weer volstoom aan die gang en kan besoek word op die volgende tye:
• Die Wellington-museum vertel die geskiedenis van die dorp wat in 1840 op die plaas Champaigne gestig is. Die menslike geskiedenis van die streek strek so ver terug as die Boesmans en Khoekhoen en later die Vryburgers en die Hugenote-vlugtelinge wat in 1688 daar aangekom het. Buiten die ontwikkeling van die dorp, die ontstaan en die godsdiens, kan jy ook meer leer oor die bekende Lady Loch-brug, die nywerhede en die Bainskloofpas. Die museum is Maandae tot Vrydae oop tussen 08:00 en 16:00 en die museum is slegs die eerste en laaste Saterdae in die maand oop van 08:00 tot 12:00. Toegang beloop R10 vir volwassenes en R5 vir studente en kinders. Bel 021 873 4710.
• Die Paarl-museum is in Van der Lingen-plein. Die museum is geleë op ’n deel van die grond wat goewerneur Willem Adriaan Simon van der Stel op 28 Februarie 1699 aan die Vryburger Pieter Janz van Maarseveen toegeken het. Die Paarl-museum is Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 15:00 oop en toegang beloop R10 vir volwassenes. Op 18 Mei sal toegang gratis wees. Vir navrae skakel 021 872 2651.
• Die Afrikaanse Taalmuseum is in die hartjie van die Paarl by Pastorielaan 11 geleë. Die museum is in die voormalige huis van Gideon Malherbe, een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), ingerig. Die museum se uitstallings lig jou in oor die geskiedenis en diversiteit van Afrikaans. Besigtig die GRA se drukpers en toets gerus jou kennis van idiome. Begeleide toere by die Taalmuseum is per bespreking beskikbaar.
Die Afrikaanse Taalmuseum is Maandae tot Vrydae van 08:30 tot 16:45 oop en is naweke en openbare vakansiedae gesluit.
Toegangsgeld vir volwassenes beloop R20 en R10 vir Drakenstein-inwoners wat hul biblioteekkaartjie kan toon.
Toegang vir studente en pensioentrekkers beloop R10 (met bewys). Toegang is ook R10 vir kinders en gratis vir kinders jonger as 6.
Die ATM het ook jaarpermitte wat onbeperkte toegang tot die Taalmuseum, die Taalmonument, wandelpaaie en volmaanpieknieks insluit. Besoek www.taalmuseum.co.za of skakel 021 872 3441 of 021 863 0543.
• Die Het Gesticht-museum by Hoofstraat 112, Paarl, is in 1813 as ’n kerk, skool en plek van samekoms vir slawe gebou. Hier word die nagedagtenis van die Drakensteinse gemeenskap van weleer bewaar. Lede van die publiek, en veral jongmense, kan hul erfenis en die geskiedenis van slawe in die omgewing by die museum navors. Die museum het geslagsregisters, huweliks- en doodsregisters van Drakenstein tussen 1694 en 1749, asook die Zions-gemeente se huweliks- en doodsregisters tussen 1820 en 1862. Die gebou word vir troues, doop en ander byeenkomste verhuur. Om die museum te besoek bel 073 998 3288.
• By die Hugenote-gedenkmuseum kan jy jou besoek begin by die Anneks-gebou, geleë by 13 Lambrechtstraat, Franschhoek om jou toegangskaartjies te koop. Hier kan besoekers uitstallings sien van die plaaslike geskiedenis van Franschhoek, afstammelinge van Hugenote en meer.
Die hoofgebou van die Hugenote-gedenkmuseum is reeds in 1967 gebou en is ’n replika van die oorspronklike Saasveld gebou in Kloofstraat, Kaapstad. Die museum se opgedateerde Saasveld-gebou beeld die verhaal van Hugenote aan die Kaap in konteks met die wêreldwye vlugteling verskynsel uit. Verken die uitstalling om te ontdek hoe konsepte van mag, vryheid, godsdiens, en die skepping van mites tot die geskiedenis van Suid-Afrika bygedra het. Die Museum toer sluit ook toegang tot die Hugenote-monument, Parfuum-museum, parfumery, beeldhou uitstalling en natuurtuin in.
Besoekers kan ook vooraf parfuum-werkwinkels bespreek en iets te ete by die Le Parfum Cafe. Besprekings kan gedoen word by 072 342 4174/074 121 0012.
Die tye wat die Hugenote-gedenkmuseum oop is, is: Maandag tot Saterdag: 09:00 tot 17:00 en Sondae en openbare vakansiedae van 13:00 tot 17:00. Die toegangsgeld is R100 vir volwassenes en R50 vir pensioenarisse, studente en skoliere. Bel 021 876 2673 of 021 876 2532 vir meer inligting.
Gratis toegang vir Suid-Afrikaners is geldig op Internasionale Museum dag, Woensdag 18 Mei vanaf 09:00 tot 17:00.





