Inwoners van Paarl-Oos word weer eens gewaarsku om versigtig te wees vir slaan-en-gryp-misdade by verkeersligte in die Chicago-omgewing.
Kol. Wellington Stephans, Paarl-Oos se stasiebevelvoerder, sê misdadigers teiken motoriste veral by die Van der Stel-rylaan- en Orleanslaan-kruising se verkeersligte.
“Die pad is donker weens kabeldiefstal en mense word gewaarsku om daar op die uitkyk te wees. Hulle moenie stop as hulle verdagte mense op die hoek van die straat sien nie.
“Die ander ding is – moenie stop as jy klippe in die pad sien of probeer om dit te verwyder nie, want dit is die strategie [om motoriste te kry om te stop]. Moet asseblief nie stop nie, maar ry versigtig weg.”
Nóg ’n misdaad-brandpunt is Simfonielaan in Groenheuwel. Volgens Stephans is daar drie verdagtes wat mense teiken en van hul selfone beroof.
“Ons verstaan mense ken hulle. Kontak asseblief die polisie en lig ons in oor moontlike bekende verdagtes in die gebied,” pleit Stephans.
Bel die stop misdaad-nommer 8600 10111 vir enige misdaadwenke wat die polisie kan help om misdadigers vas te trek.
- Residents of Paarl East are once again being warned to be wary of smash-and-grab crimes at traffic lights in the Chicago area.




