Vandag, Donderdag 12 Mei, word verpleegsters oor die wêreld heen op Internasionale Verpleegsterdag vereer en erkenning word gegee vir die diens wat hulle lewer.
Een só ’n verpleegster is sr. Riana Nothnagel, die bedryfsbestuurder van die Patriotplein-kliniek in die Paarl. Sy sê sy geniet dit om ’n verskil in mense se lewe asook in hul gesondheid te maak.
Die 36-jarige Nothnagel het haar studies aan die Noordwes Universiteit voltooi en is al 12 jaar ’n verpleegster.
“Ek het eendag bloot besef verpleging is wat ek wil doen. Ek het by die Paarl-hospitaal in die ongevalle-eenheid as verpleegster begin werk en in September 2021 by die Patriotplein-kliniek.”
Volgens Nothnagel is een van die uitdagings in die beroep om pasiënte se verwagtinge deurlopend te bestuur.
“Ons gee voortdurend inligting deur, byvoorbeeld die eerste stappe wat gevolg word wanneer jy na die kliniek kom en wat jy volgende kan verwag. Wanneer jy na die kliniek kom, moet jy by ontvangs aanmeld en seker maak ons het jou jongste kontakbesonderhede. Daarna sal jou gesondheid geëvalueer word sodat ons kan bepaal wie die dringendste hulp nodig het. Afhangend van die kleurkode wat jy hiervolgens ontvang, sal jy geprioritiseer word vir hulp. Hierdie ‘triage’-stelsel word wêreldwyd as ’n maatstaf by gesondheidsfasiliteite gebruik.”
Sy sê dit beteken dat daar wel wagtye gaan wees en dat hulle graag vir elkeen ’n omvattende, gehaltediens wil gee.
“Iemand wat na ons kom omdat hy byvoorbeeld heeltyd buitengewoon moeg voel, sal dalk dink ’n verpleegkundige sal sê hy benodig net aanvullings en dat hy vinnig ‘in en uit’ sal wees, maar die verpleegkundige sal in geheel na sy gesondheid kyk om die oorsprong daarvan en die volgende stappe te bepaal.
“Of, iemand wat ’n ortopediese probleem het, verwag om in te kom vir ’n brief sodat hy na ’n hospitaal kan gaan om ’n spesialis te spreek. ’n Omvattende konsultasie is egter nodig, waarna die personeellid jou leiding sal gee.”
Volgens Nothnagel moedig hulle pasiënte en besoekers aan om met hulle te praat as hulle onseker voel, sodat hulle daardie pasiënt ’n “persoon-gesentreerde” diens kan gee.
Nothnagel het verduidelik hulle bedien ’n groot hoeveelheid mense en gemeenskappe brei voortdurend uit. Sy sê wel die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand besef watter druk dit op personeel en hulpbronne plaas.
Hoewel die kliniek waar Nothnagel werk tussen 07:30 en 16:00 oop is, werk personeel dikwels later om take af te handel.
Volgens Nothnagel het die Covid-19-pandemie haar laat besef dat talle risiko’s met haar beroep gepaardgaan.
“Risiko’s vir my eie gesondheid en, in die geval van Covid-19, natuurlik ook die risiko dat ek Covid-19 kan kry en my geliefdes kan aansteek. Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons pasiënte en daarom kan verpleegkundiges en ander gesondheidswerkers nie terugdeins nie. Ons moet almal na die beste van ons vermoë help.”
Sy sê om ’n verpleegster te wees, vereis ook van jou om baie aanpasbaar te wees. “Namate die pandemie ontvou het en meer en meer inligting ontbloot is, het ons voortdurend aangepas om die beste moontlike ondersteuning aan die gemeenskap te gee.”
Vir Nothnagel is dit ook belangrik dat die publiek besef enigiemand in die mediese veld is ook maar net ’n mens in eie reg.
“Ons elkeen het ons eie uitdagings, behoeftes en probleme. Al beveg ons iets soos ’n pandemie met alles in ons vermoë, raak ons ook soms moeg en uitgeput. Dit word baie waardeer wanneer ’n pasiënt of besoeker ons of ons fasiliteit bedank vir wat ons doen – dit spoor ons opnuut aan en help ons om die pas vol te hou.”
Volgens haar het sy as verpleegster geleer om elke dag haar beste te gee, ongeag of ander mense besef wat sy insit of nie.
Vir iemand wat graag ’n verpleegster wil word, sê sy: “Betree die beroep as jy regtig ’n verskil in mense se lewe wil maak. Jy moet ’n sterk persoonlikheid hê en veerkragtig wees.”
- Internasionale Verpleegsterdag word op die geboortedag van Florence Nightingale (The lady with the lamp) gevier. Nightingale het bekend geword as die verpleegster wat opleiding gegee het vir ander verpleegsters en as bestuurder tydens die Krim-oorlog, waarin sy die versorging van gewonde soldate georganiseer het.
- Nurses, who very much have a selfless job, focusing on the care and wellbeing of others, are the world-wide focus this week during International Nurses Day.





