Die omhulsel van waardevolle koperkabels is deur verdagtes tot as verbrand. Hulle is op heter daad betrap nadat hulle kabels gesteel het en is in hegtenis geneem.


Hoewel eerlike burgers maniere vind om die tyd tydens beurtkrag in algehele duisternis deur te bring, soek misdadigers geleenthede om kabels van passiewe kraglyne te steel of geboue met alarmstelsels wat weens beurtkrag nie geaktiveer is nie, te teiken.

Dit het die Drakenstein-munisipaliteit (DM) nou genoop om die stryd teen kabeldiefstal te verskerp deur ’n beloning van tot R5 000 aan te bied vir enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van verdagtes.

“Die munisipaliteit neem infrastruktuur- en kabeldiefstal ernstig op en het ’n gespesialiseerde metaal- en kabeldiefstal-eenheid op die been gebring om vandalisme, diefstal van munisipale infrastruktuur en kabeldiefstal hok te slaan,” sê Riana Geldenhuys, die DM-woordvoerder.

Dit volg nadat die DM se wetstoe­passingsafdeling en die Mbekweni-polisie Dinsdag (17 Mei) twee vermeen­de kabeldiewe naby Drommedarisstraat in Mbekweni in hegtenis geneem het nadat daar gesien is hoe hulle die omhulsel van kabels afbrand.

“Die verdagtes het te voet van die toneel gevlug, maar is agternagesit en in hegtenis geneem. Die beamptes het sowat 10 meter se gesteelde kabel, wat die verdagtes gebrand het, ontdek. Die verdagtes is ingevolge die Wysigingswet op Strafsake 2015 van die besit van gesteelde goedere aangekla.”

Die bevelvoerder van die Drakenstein Farm Watch (DFW), Daan van Leeuwen Boomkamp, het die vorige aand nog ’n voorval van kabeldiefstal aangemeld.

“ ’n Oplettende inwoner van ’n plaas op die DFW-radionetwerk het gesien hoe ’n groep mans by ’n heining op ’n buurplaas op die Sonstraalweg opklim nadat beurtkrag begin het.”

Van Leeuwen Boomkamp het gesê omdat dit duidelik was die mans was besig om ’n misdaad te pleeg, is die hulp van die polisie en ’n veiligheidsmaatskappy bekom.

“Toe die krag weer aangaan, is ’n harde ontploffing gehoor, en by nadere ondersoek was dit duidelik die skuldiges het die kragkabels geknip terwyl die krag af was, wat ’n kortsluiting veroorsaak het toe die krag weer aangekom het.”

Die verdagtes het daarin geslaag om te ontsnap en niemand is in hegtenis geneem nie.

Geldenhuys beklemtoon dat kabeldiefstal ’n groot uitwerking op gemeenskappe het aangesien dit inwoners, sakeondernemings en boere sonder elektrisiteit laat.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om alle infrastruktuur- en kabeldiefstalvoorvalle by die munisipaliteit se sentrale bedryfsbeheersentrum, wat 24 uur beskikbaar is, by 021 807 8508 of 080 131 3553 (tolvry) aan te meld. . The Drakenstein Municipality is raising the stakes offered for information leading to the arrest of copper thieves to R5 000 due to the continued cables thefts, especially now with regular blackouts.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article