Daar is nog net enkele dae oor om jou te laat tel. Die sperdatum vir die nasionale sensus is 31 Mei.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het benadruk waarom dit belangrik vir landsburgers is om in die sensus getel te word.
Winde het gesê dit is belangrik om soveel inwoners moontlik te tel sodat die provinsie sy billike deel van die nasionale begroting kan kry.
Onlangs was nog net 70% van Wes-Kapenaars getel.
“Die Wes-Kaap kan finansiering verloor gelykstaande aan 1 615 dokters of 5 981 verpleegsters, en meer as 9 300 onderwysers, as net 70% van die inwoners in die 2022-sensus getel word.
“Dit volgens benaderde skattings deur die Wes-Kaapse provinsiale tesourie.”
In begrotingsterme gaan die provinsie R9,7 miljard verloor, of meer as 16% van die provinsiale billike aandeel, as net 70% van die inwoners getel word. Dit sal beteken dat R2,6 miljard se finansiering vir die gesondheidsbegroting en R4,2 miljard van die onderwysbegroting minder gemaak kan word, met kleiner departemente wat ook verliese kan ly.
“Kortom, dienslewering in die Wes-Kaap sal oor die algemeen ’n groot slag ervaar as inwoners nie seker maak hulle word getel nie.”
Hierdie gevoel van dringendheid is ook vroeër vandeesmaand deur die uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland-distrik Elma von Schlicht gedeel.
“Ek kan nie die belangrikheid van jou deelname aan hierdie sensus genoeg beklemtoon nie,” het sy gepleit.
Inwoners word sterk versoek om die sensusvorm aanlyn van ’n selfoon of enige ander toestel te voltooi deur getcounted.statssa.gov.za te besoek.
Anders kan mense ’n afspraak maak deur 0800 110 248 te skakel sodat ’n veldwerker hulle by die huis kan besoek.
“Wees deel van die plan,” het Von Schlicht beklemtoon.
“Maak seker jy en jou gesin word getel.”




