Die Poskantoor gaan voortaan nie meer die spesiale R350-noodtoelae by sy takke uitbetaal nie en het begunstigdes aangeraai om dit by aangewese winkels en kitsbanke te kry.
Die toelae is weens die Covid-19-pandemie ingestel en is vir werklose mense wat geen ander toelaes kry nie.
Die DA meen egter die besluit sal miljoene arm Suid-Afrikaners benadeel en hulle dwing om onnodige reiskoste aan te gaan om hierdie toelae buite die gemeenskappe waar hulle woon, te ontvang.
“Daarom gaan die DA aan Khumbudzo Ntshavheni, die minister van kommunikasie en digitale tegnologieë, skryf om te vra dat die Poskantoor sy sinlose besluit heroorweeg,” het Solly Malatsi, DA-woordvoerder oor kommunikasie, gesê.
Johan Kruger, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Poskantoor, het by navraag gesê die rede vir die besluit is nie net om lang rye by poskantore te verhoed nie. Die hoofmotivering is om die begunstigdes tyd en geld te bespaar deur die betaalpunte te skuif na plekke waar hulle die toelae gebruik.
“Ons het bevind hulle kom poskantoor toe om dit af te haal en moet dan vervoerkoste betaal om by ’n kruidenierswinkel te kom.”
Kruger sê begunstigdes kan hul toelae by enige Pick n Pay-, Boxer-, Shoprite-, Checkers- of USave-winkel kry.
Volgens Malatsi sukkel landelike gemeenskappe reeds omdat al meer poskantore in landelike gebiede sluit.
“As dit gedoen word om lang rye by poskantore te verhoed, is dit nie goed genoeg nie. Lewenskoste skiet die hoogte in en die regering moet die nodige verligting aan arm Suid-Afrikaners bied sodat hulle ’n bestaan kan voer pleks om hulle te versmoor met bykomende uitgawes ter wille van korter rye.”
Malatsi meen die lang rye by poskantore is weens die entiteit se ondoeltreffendheid, ’n tekort aan personeel en uitgediende tegnologie – nie weens begunstigdes wat hul toelae kom afhaal nie.
“Die DA sal al die parlementêre kanale gebruik om hierdie stap teen te staan, en indien nodig sal ons regstappe doen.”
Volgens Kruger kan begunstigdes van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid, wat ouderdom-, ongeskiktheid- of kindertoelae ontvang, dit steeds by enige poskantoor afhaal.


