Die “pad van die dood” het Sondagaand die lewe van nóg drie mense geëis nadat twee voertuie reg van voor op die R46 tussen Wellington en Gouda teen mekaar gebots het.
Die nooddienste is om 19:35 na dié grusame toneel ontbied, waar ernstig beseerdes tussen die wrakstukke van ’n brandende Toyota Quantum-minibus en ’n Toyota Condor gestrooi was.
Twee passasiers is op die toneel dood en ’n derde het in die Paarl-hospitaal aan sy wonde beswyk.
Tulbagh-polisiewoordvoerder sers. Scarlett Buttress het bevestig die oorledenes is as Marcilino Jacobs (46), Andimayio Nikani (54) en Zanexolo Xaso (50) uitgeken.
“Die Quantum-minibus het gerol en aan die brand geslaan,” het sy gesê.
’n Nooddienswerker wat op die toneel was, het aan Paarl Post gesê altesaam sewe insittendes was in die botsing betrokke.
“Al die oorlewendes het ernstige beserings opgedoen. Een van die passasiers was ’n paar maande oue baba, wat gelukkig geen beserings getoon het nie. Die ma, wat die baba glo nog borsvoed, het al twee haar bene gebreek en moes die kind aan familielede wat by die toneel opgedaag het, toevertrou. Sy is na Ceres-hospitaal geneem.”
Die ander beseerdes is na die Paarl-hospitaal vervoer.
Die provinsiale polisiewoordvoerder kapt. Frederick van Wyk sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.
“Enigiemand met inligting oor die noodlottige botsing word vriendelik versoek om die ondersoekbeampte, sers. Angelo Jacobs, by 079 894 0192 of Crime Stop by 08600 10111 te bel.
Departement reageer op R44-gevare
Paarl Post het in verlede week se uitgawe berig oor al die gevare wat die R44 vir motoriste inhou weens ’n beweerde tekort aan padveiligheidsmaatreëls.
’n Woordvoerder van die departement van vervoer en openbare werke, Jandré Bakker, sê snelheidsperke en verkeerslyne op die R44 voldoen wel aan voorgeskrewe norme en standaarde.
“Hersiening van die snelheidsperke kan hervat word, maar dit beteken nie dié perke sal gewysig word nie aangesien bevindings sal toon dat dit aan die norme en standaarde voldoen.”
Hy meen wysiging van die snelheidsperke of sperstrepe gaan nie sommer waarborg dat padgebruikers se gedrag sal verander nie.
“Om vir 15 km aaneen ’n dubbellyn te sien wat verbysteek verbied, kan tot toenemende frustrasie onder motoriste lei, wat kan veroorsaak dat hulle veel erger kanse sal waag.
“Een gedeelte van ’n pad kan nie alleenlik hersien word nie, en moet dus as deel van ’n groter padnetwerk in ag geneem word.”
Bakker sê om selfs meer waarskuwingsborde langs die pad te plant, sal ook nie juis padgebruikers se gedrag beïnvloed nie.
“Indien daar moontlik te veel padtekens of borde is, kan dit selfs daartoe lei dat mense hulle minder aan die gevaartekens steur.
* Another fatal accident on the R46 near Gouda on Sunday led to the death of three people. The accident involved seven occupants, including a baby. Three occupants were left seriously injured. Fortunately, the baby survived and did not show signs of injury. However, the mother was hospitalised.





