Hano (43) en Jacques Kleynhans (46) was onafskeidbaar in die lewe, en so ook tydens die dood.


Die remmerke van twee broers se Toyota-bakkies was duidelik sigbaar op die N1 buite Touwsrivier waar hulle kort ná mekaar teen ’n stilstaande vragmotor gebots het.

Die ongeluk het Sondagaand (22 Mei) omstreeks tienuur plaasgevind nadat ’n vragmotor sonder petrol op die pad na Laingsburg gaan staan het.

“Jacques Kleynhans (46) is op slag dood terwyl Hano (43) in ’n kritieke toestand na die Worcester-hospitaal geneem is. Hy het ná ’n taai stryd om aan die lewe te bly Donderdagoggend vroeg aan sy beserings beswyk.”

Só vertel Hano se skoonsuster Anna-Marie le Roux, wat aan Paarl Post vertel het die broers was onderweg na Paarl van hul plaas, Groot Water, by Matjiesfontein.

“Hulle was besig met die ontwikkeling van die plaas en was Sondagaand op pad terug Paarl toe om die Maandag voorraad in die Kaap te gaan oplaai.”

Hano was die eienaar van CA Contractors in Paarl, waar Jacques, sy ouer broer, ook gewerk het.

“Die Maandagoggend het Retha du Toit, wat by CA Contractors werk, die berig op Facebook gesien en Hano se vrou, Anja, gekontak. Hulle het onmiddellik die voertuie herken en begin rondbel vir enige nuus oor die botsing. Die enigste inligting wat hulle kon kry, is dat een persoon in die hospitaal is en die ander oorlede is.”

So moes Anja en Rutina, Jacques se vrou, toe die lang en aaklige pad na Worcester aandurf om uit te vind wie het oorleef.

Die twee broers sal onthou word hul ongelooflik mooi verhouding, tesame met hul middel-broer, Jaco, sê Le Roux.

“Jacques was die oudste van die drie broers en het ’n sagte hart en vriendelike glimlag gehad – die stil en sagter mens, wat geleef het vir die tye saam met Hano op die plaas, waar hulle saam gedroom en hul liefde vir die plaas uitgeleef het.

“Hano was ’n bol energie vol lewe en het hard gewerk en voluit geleef. Hy was ’n sakeman van formaat, Karoo-boer, vrywilliger by die Drakenstein-plaaswag (DFW), jagter en visserman, om net ’n paar te noem. Hy het ook aan die Trans Agulhas Rubber Duck-ren deelgeneem.”

Le Roux sê die broers was lief om mense te help waar hulle kon.

“Ons het eers ná hul dood besef hoe gereeld hulle mense gehelp het toe al die medelye van oral begin instroom het.”

Hano word oorleef deur sy vrou, Anja, en kinders. Jacques word oorleef deur sy vrou, Rutina en hul kinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article