Hoewel die gesprek oor die moontlike naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) die afgelope paar weke wye reaksie gelok het, was daar – anders as wat verwag is – talle oop sitplekke by Saterdag se openbare vergadering.
Die ATM het as deel van sy viering van Internasionale Museumdag ook die platform geskep vir lede van die publiek om insette te lewer oor die uitlating van minister Nathi Mthethwa dat die naam van die ATM verander moet word.
Buiten die enkele lede uit die plaaslike Drakenstein-gemeenskap asook die raadslede van die Vryheidsfront Plus was die Drakenstein maar skrams verteenwoordig in die Strooidakkerksaal, waar die geleentheid gehou is.
En hoewel daar heelwat DA-verteenwoordigers was – van so ver as Mpumalanga, die Noord-Kaap en Limpopo – asook lede van die parlement, was niemand van Drakenstein op die vergadering teenwoordig nie. Verskeie raadslede van Drakenstein, asook die burgemeester, Conrad Poole, tesame met die burgemeesters van Stellenbosch en die Kaapse Wynland, het wel die optog tot by die gratis proteskonsert, wat deur die DA gereël is, bygewoon.
Die voorsitter van die ATM, Jean Meiring, het aan die gehoor verduidelik hoewel die raad op 26 en 27 Mei vergader het, is geen besluit oor ’n moontlike naamsverandering geneem nie en hulle neem kennis van die openbare sentimente.
Meiring het verder gesê die raad bly gefokus op die bevordering van maatskaplike samehorigheid, Afrikaans en ander inheemse tale asook veeltaligheid – en die rol wat dit in die groter dekoloniseringsproses speel.
Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus in die parlement, en ook dié party se provinsiale leier in die Wes-Kaap, het gesê wat hom betref, is die Afrikaanse taal nie in die gedrang nie. Mulder het Mthethwa bedank en gesê hy dink nie Mthethwa het ’n idee wat hy aan die gang gesit het nie, maar dat hy met sy stelling weer Afrikaanse mense bymekaar gekry het om oor hul taal te praat en te beskerm wat vir hulle “kosbaar en dierbaar” is.
“Enigiemand wat beweer die Afrikaanse Taalmonument en -museum is nie inklusief nie, weet nie waarvan hy praat nie.”
DAK Netwerk se uitvoerende voorsitter, Danie van Wyk, het op sy beurt gesê hulle is ten gunste van die behoud van Afrikaans op alle terreine en vlakke.
“Ek dink om te verstaan wat vandag gebeur, waarom daar voorstelle is of aannames is dat die Afrikaanse Taalmonument se naam moet verander, moet ’n mens uit ’n sekere perspektief sien. Die ATM is ’n inisiatief van die Apartheidsregering. Dit is aanvanklik as ’n baken daargestel, waar Afrikanernasionalisme gevier is en in daardie proses ander Afrikaanssprekendes heeltemal uitgesluit het. Ons was nie deel van die Afrikaanse Taalmonument nie, want ons is as minderwaardig beskou. Ons is nie na die inwyding van die monument genooi nie en kon nie die monument besoek nie.
“Ons het gevoel die ATM is eintlik in sonde gebore en ontvang, en iets moes daaraan gedoen word dat hierdie monument meer aanvaarbaar kon word by ander Afrikaanssprekende gemeenskappe, en dit het gebeur. Die taalmonument is vandag ’n baken van inklusiwiteit. Die taalmonument verwelkom vandag almal as Afrikaanssprekendes en ander. Afrikaans is nie meer die taal van verdrukking nie – Afrikaans is ’n bevrydingstaal en daarom is dit so belangrik dat ons moet besef hierdie taalmonument het ná die koms van demokrasie ook ’n metamorfose ondergaan.”
Van Wyk het bygevoeg Michael Jonas, die direkteur van die ATM, het ’n groot rol gespeel sodat die ATM aanvaarbaar vir alle Afrikaanssprekendes kan wees.
Daniël Lötter, ’n skrywer van die Paarl, het ook sy mening gelug en gesê hy wonder op grond waarvan die minister wil aanvoer dat die ATM nie inklusief genoeg is nie. Lötter het ook daarna verwys dat die ATM reeds in 1975 die Khoi-taal ingesluit het.
“Afrikaans is ’n taal van hierdie land. Afrikaans is ’n taal van ons almal.”
Carel Stander, sameroeper van die Paarl- Afrikaanse Skakelforum (PASF), het op sy beurt gesê die kernwoord “Afrikaanse” is in die naam van die ATM.
Stander meen ook dat die institusionele geheue en historiese aanloop tot die oprigting van die ATM ongetwyfeld in ag geneem moet word.
“Indien dit verwyder word, vernietig dit die rede vir sy bestaan.
“Die ATM se raad en bestuur het die afgelope aantal jare uitstekend daarin geslaag om transformasie en inklusiwiteit verder uit te bou sodat die ATM tans ’n besienswaardigheid is waarop Suid-Afrika en sy mense trots kan wees.
“Die PASF is van mening dat dit juis die ministerie van kuns en kultuur behoort te wees wat die droom van versoening binne die reënboognasie, soos deur wyle oudpresident Nelson Mandela in die vooruitsig gestel is, daadwerklik moet bevorder en dit uit die ras en politieke arena moet verwyder.”
Stander het ook gevra dat die raad nie moet toelaat dat die hele proses deur burokratiese rompslomp vertraag word nie.
Ferdinand Rabie, organiseerder van die Legend Runner, wat jaarliks in die Paarl gehou word, meen hy sou meer jongmense by die vergadering wou sien. “Ek wil nie snaaks wees nie, maar dit lyk soos ’n ouetehuis hier.”
Rabie het gesê hy is dankbaar vir wat die ouer garde vermag het, “maar die jeug moet betrokke raak om voortaan vir Afrikaans te kan veg”.
Dit was duidelik dat elkeen van die sprekers passievol oor die Afrikaanse taal is en van mening is dat die ATM se naam onveranderd moet bly.



