Kinders, moeders, onderwysers, raadslede, wetstoepassers en polisiebeamptes het Donderdag hul toewyding tot kinderbeskerming in Champagnestraat getoon. Foto: Heleen Rossouw


Die Drakenstein-gemeenskap het verlede Donderdag sy voete ferm dwars gesit en gesê “hier sal kindermishandeling nie geduld word nie”!

Drakenstein-vroeë-kinderontwikkelings­forum (DVKF) het talle ma’s, juffrouens, raadslede, polisielede en wetstoepassers byeengebring in ’n optog voor Bergrivier Sekondêr in Champagne-straat, Wellington.

Die optog was ’n gesamentlike poging om bewustheid oor plaaslike projekte wat kinderbeskerming nastreef, te bevorder.

Desmoray Prins van Drakenstein-munisipaliteit en Lizelle Dornbrack as voorsitter van die DVKF het ’n belangrike missie met verskillende inisiatiewe om ’n ingesteldheid oor kinderveiligheid in die vallei te kweek.

“Die forum bestaan tans uit sowat 35 kleuterskole in Wellington en verskeie groephoofde en juffrouens. Ons vergader minstens een keer per maand om die behoeftes en uitdagings van die verskillende gebiede te identifiseer,” verduidelik Dornbrack.

Prins het bygevoeg: “Dit kan enigiets wees van praatjies oor boelie tot werksessies waar vaardigheid van vroeëkinderontwikkeling aangebied word. Ons het databanke van alle plaaslike kleuterskole en oppassers en bou ’n sterk netwerk om ons doelwitte te bereik.

“Die belangrikste is om te sorg dat alle kinders in hul behoeftes gehelp word, en dat geen kind agterbly nie.”

Ewie Gouws, burgemeesterslid vir gemeenskapdienste, sê bewusmaking en pogings tot kinderbeskerming moet nie net dié een week in Mei bevorder word nie, maar behoort deur die jaar geprioritiseer te word.

“Daagliks sien ons hoe kinders mishandel word en hoe hulle alle sfere van die gemeenskap se beskerming benodig. Die ouers moet sorg dat, wanneer hulle die huis verlaat op pad werk toe, hul kinders in ’n veilige hawe is.”

Gouws verduidelik dat daar in verskeie gebiede kragte van buurtwagte ingespan word om oor die jeug in hul omgewing te waak.

“Daar is selfs ’n groep van Chicago, genaamd Walking Mommies wat die kinders soggens op pad skool toe en smiddae terug huis toe op hul staproetes vergesel.” Sy meen dat ’n toename in soortgelyke inisiatiewe sal bydra tot die veiligheid van kinders in die vallei.

Die burgemeesterslid vir gemeenskaps-veiligheid, Avron Appollis, het ook sy stem dik gemaak: “Ons kinders is ons toekoms. Om ’n kind groot te maak, kos ’n gemeenskap se samewerking. Ek glo vas in die stelling dat ‘a youth in sport, is a youth out of court’.” Hy glo dat tradisies waarmee kinders oor sterk beginsels geleer word, na die huishouding moet terugkeer.

“Om tradisies in ons kinders te vestig, sal tot die algehele welstand van die gemeenskap, bydra.”

Die forum se netwerk met ondersteunende rolspelers werk daarna om ’n Adopt a child-veldtog te stig, waardeur alle kleuterskole in Wellington, en selfs die wyer Drakenstein, kan deelneem om kinders sonder toesig of dagsorg gratis in te neem. Vir meer inligting kan Prins by 067 703 7941 gebel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article