Die afgelope week het Drakenstein asook ander dele van die Wes-Kaap heerlike warm weer gehad, maar dit het gelei tot ’n daling in damvlakke.

Dit laat ’n mens wonder of die waterbeperkings van ’n paar jaar gelede tog nie maar weer op ’n lae vlak ingestel moet word nie. Dit sal inwoners dwing om spaarsamig met hul water te werk en met die stygende pryse, wat al hoe meer druk op huishoudings plaas, sal dit beslis ’n paar ekstra rand in jou beursie los.

Met die deernisbeleid wat aangepas is en hulpbehoewende huishoudings wat nou meer uit hul sak vir elektrisiteit sal moet haal, is maniere om te bespaar seker op almal se lippe.

Die stygende brandstofpryse laat ’n mens ook deesdae twee keer dink as hulle êrens heen moet ry. Die brandstofprys raak nie net voertuigeienaars nie, maar ook inwoners wat van openbare vervoer gebruik maak. Dalk moet ons dit oorweeg om soos in oorsese lande van fietse gebruik te maak.

Vandeesweek is daar juis ’n nuwe fietsry-akademie vir die jeugdiges van Drakenstein bekend gestel. Dit sal beslis nie ’n slegte idee wees as die werkers­klas of selfs ouer garde ook by dié akademie kan aansluit nie – dit is ’n wen-wen vir almal. Minder motors op die pad, jy bespaar brandstof, help die omgewing en boonop baat dit jou gesondheid!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article