Die raaiselagtige dood van ’n 24-jarige Paarliet vroeër vanjaar laat die gesin met meer vrae nadat sy glo deur ’n man of groep mans gejaag is.
Simoné Scheepers is op 15 Januarie in die Mediclinic Paarl dood nadat sy inmekaargesak het toe ’n roetine- drafsessie in die Hoog-en-Droog-omgewing glo skeefgeloop het.
Volgens haar familie is Simoné, wat aan Long QT-sindroom (’n hart-ritme-toestand) gely het, weens vrees en skok dood nadat sy glo deur ’n verdagte motor gejaag is.
Sy was ’n gekwalifiseerde lewensafrigter en persoonlike afrigter wat ’n goeie gesondheidsbewussyn, gepaard met haar harttoestand, reg bestuur het. ’n Kardioloog wat in Long QT-sindroom spesialiseer, het aan die familie bevestig dat sy ’n hartstilstand weens vrees en skok ervaar het.
Haar ma, Denise Fourie, het aan ’n dagblad vertel dat Simoné om 19:15 van die huis af weg is om te gaan draf toe dit buite nog lig was. ’n Reeks gebeurtenisse het daartoe gelei dat ’n jong vrou haar te hulp gesnel het nadat sy Simoné se noodkreet gehoor het.
Die vrou het na Simoné in Vierde Laan gehardloop om te hoor wat aangaan. Simoné het haar vertel dat ’n motor by haar stilgehou en ’n man met ’n mes die deur oopgemaak het.
Dit is al woorde wat Simoné kon uitkry en, uiteindelik, die raaisel van haar dood met meer konteks kon inkleur.
Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, het aan Paarl Post verduidelik dat geen misdaadondersoek wat slegs op bewerings gegrond is, ingestel kan word nie.
“Geen klagte is aangemeld nie en geen ooggetuies het enige bewyse gelewer of vorendag gekom nie,” het Du Plessis gesê. Simoné sou op 9 April vanjaar met Ivan Harris getrou het.
* More questions arose following the death of Simoné Scheepers (24) on 15 January due to cardiac arrest during a routine run in Paarl. Accounts from a woman at the scene suggest that Simoné feared for her life after a man allegedly holding a knife approached her from a vehicle that was following her in the Hoog-en-Droog area. . Source: Netwerk24





