Alles is goed op dreef vir die 106de weergawe van Paarl Interskole, wanneer die Hoër Jongenskool Paarl en Paarl Gimnasium mekaar takel.
En vanjaar se wedstryd tussen hierdie twee skolerugbyreuse behoort ná ’n interskole-droogte van twee jaar weens die Covid-19-pandemie ’n skouspel te soos min te wees.
Hoewel rugbyliefhebbers op 30 Julie wel in die Faurestraat-stadion op van die wêreld se beste skolerugby getrakteer sal word, sal toeskouers ingevolge die huidige Covid-19-regulasies tot slegs 50% van die stadion se kapasiteit beperk word. Die amptelike kapasiteit is 20 000 toeskouers, dus word Paarl Interskole vanjaar tot 10 000 toeskouers beperk.
Verder sal alle toeskouers bewys moet lewer van hul inenting of ’n negatiewe Covid-19-toets wat nie ouer as 72 uur moet wees nie.
Beskikbaarheid van toegangskaartjies vir Faurestraat op 30 Julie:
HJS Paarl en Paarl Gimnasium het saam besluit om die beperkte aantal kaartjies as volg in te deel:. HJS- en Paarl Gimnasium-leerders;. HJS- en Paarl Gimnasium-personeel met gades;. HJS- en Paarl Gimnasium-borge en vername gaste; en. HJS- en Paarl Gimnasium-ouers (beperk tot twee kaartjies per gesin).
Die restant van die kaartjies is aan die skole se oudstudentekantore gegee vir reünie-groepe en oudstudente.
Indien beperkings amptelik voor 30 Julie verslap word, sal die ekstra kaartjies as instapkaartjies vir sitplekke op die fietsrybaan en wal beskikbaar gestel word.
Kaartjies word direk deur die skole en oudstudentekantore hanteer.
Geen kaartjies sal by die hekke of enige ander afsetpunte as die skole of hul oudstudentekantore beskikbaar wees nie.
Ná samesprekings met die Drakenstein munisipaliteit sal alle plastiek wat by Interskole gebruik word, ná die byeenkoms vir herwinning verwyder word. Geen ballonne sal tydens Interskole in die lug opgestuur word nie.
Dit gaan gewis ’n fees van skolesport wees wat die Paarl die hele week tot stilstand sal bring. . All is on track for the 106th edition of Paarl Interschools on 30 July.




