Duisende inwoners van Ashton word deur ’n reusagtige ekonomiese en maatskaplike krisis in die gesig gestaar nadat die maatskappy Tiger Brands aangekondig het hy is besig met ’n proses om sy vrugte-inmaakfabriek in Ashton oor twee maande te sluit.
Benewens die 250 direkte poste by die Langeberg & Ashton Foods-fabriek en die sowat 300 boere wat aan die fabriek lewer, gaan duisende ander mense ook deur die sluiting geraak word. Dit sluit kontrakteurs aan die fabriek (onder meer vervoer- en hersteldienste), permanente plaaswerkers en meer as 4 000 seisoenale werkers in. Seisoenale werkers is sowat ses maande van die jaar afhanklik van werk op plase wat vrugte aan die fabriek lewer.
Volgens Jacques Jordaan, uitvoerende hoof van die Produsentevereniging vir Inmaakvrugte, verteenwoordig Ashton sowat 60% van inmaakvrugte wat verbou word. Die enigste ander inmaakfabriek is in Tulbagh en behoort aan die Rhodes Food-groep.
Honderde boere sit nou met perske- en appelkoosoeste wat hulle nêrens het om te lewer nie. Dit sluit onder meer boere uit die streke Klein Karoo, Ashton, Robertson, Bonnievale, Ceres en Breërivier in.
“Daar is sowat 2 250 ha vrugteboorde wat nie gelewer kan word nie. Hierdie boere het geen ander alternatief nie. Hulle kan nie uitvoer nie en die ander inmaakfabriek is reeds op kapasiteit. Boere het ophou snoei omdat hulle nie weet wat om met die vrugte te doen nie. Mense besef nie die omvang van die ramp wat voorlê indien die fabriek sluit nie,” sê Jordaan.
Andries Mhobo, een van dié kontrakteurs wat arbeid aan ’n boerdery voorsien, sê hulle is baie bekommerd oor die aankondiging dat die fabriek in die proses is om te sluit. Hy bemiddel sowat 100 snoei- en oeswerkers aan ’n spesifieke boerdery.
“Ons voorsien dat pryse gaan daal en die oeswerk aan perskes in Desember en Januarie gaan opdroog. Die boere kan dalk die perskes vir sap lewer, maar dit bring maar ongeveer die helfte van die inkomste in. Ek weet nie wat ons gaan maak nie,” sê hy.
Mhobo sê sy span moes verlede week reeds sowat 10 ha boorde by ’n boer uithaal omdat daar waarskynlik nie afsetplek vir die oes daaruit gaan wees nie en die boer voorkomend wil optree. “Ons praat van groot geld. Die plukkers is baie treurig hieroor. Hier is reeds nie werksgeleenthede vir mense nie, en nou dié. Mense moet kos op die tafel sit.”
Die inmaakfabriek was eers in private besit voordat dit deur Tiger gekoop is. Die meeste van die fabriek se produkte word na onder meer China, Europa, Japan en Australië uitgevoer.
Dit voorsien reeds dekades lank werk aan mense in die Langeberg, en daar is families van wie geslagte by die fabriek werk. Die oorspronklike fabrieke was die Ashton Canning-fabriek en die Langeberg-fabriek. Tiger Brands het albei hierdie fabrieke uitgekoop – een as ’n koöperasie wat in produsente se besit was en die ander van Koos Barnard, wat die onderneming oor dekades opgebou het.
Volgens Tiger het die wisselvalligheid van die wisselkoers en internasionale oesopbrengste ’n impak op die fabriek, en daarbenewens neem die Suid-Afrikaanse aanplanting van sagtevrugte, soos appelkose, pere en perskes, wesenlik af namate bome se opbrengste met ouderdom verminder.
Volgens ’n woordvoerder van die maatskappy het Tiger Brands wel probeer om aanplantings aan te moedig en verouderende boorde te vervang deur subsidies beskikbaar te stel, maar dit het nie die gewenste uitwerking op opbrengste gehad nie.
Jordaan het aan Liana Mocke van Netwerk24 gesê produsente verskil van Tiger Brands oor die redes vir die sluiting van die fabriek. Produsente is ontsteld oor die stelling dat subsidies beskikbaar gestel is. “Tiger het beslis geen sulke inisiatiewe gehad in die afgelope drie jaar waarvan ons bewus is nie. Inteendeel, daar is die afgelope jaar ’n groot ooraanbod van perskes geskep nadat Tiger Brands die volume innames met 25% gesny het. Dit selfs ten spyte van ’n tekort in die mark weens swak oeste in Europa verlede jaar.”
’n Groep van ongeveer 160 boere het die afgelope twee jaar hard gewerk om te probeer om die fabriek te red deur dit by Tiger te koop, maar dit was tot dusver onsuksesvol.
Hulle kon nie genoeg geld bymekaar maak vir ’n transaksie nie.
Tiger was ook bereid om ’n som geld te bewillig om ’n oorname te laat gebeur, maar nog ’n groot belegger kort om die uitstaande R200 tot R300 miljoen, wat nodig is om die transaksie te finaliseer, te dek. Indien ’n belegger nie binne die volgende 60 dae gevind word nie, sal dit neusie verby wees.
“Ons het dringende ingryping nodig, veral ook van die regering se kant af,” sê Jordaan. Benewens die verlies aan buitelandse valuta wat deur uitvoer van die fabriek gegenereer word, gaan die maatskaplik-ekonomiese impak reusagtig wees.
“Indien toegelaat word dat hierdie fabriek sluit, sal dit nooit weer moontlik wees om die skade wat daardeur aangerig is, te herstel nie,” sê Jordaan. “Daar gaan geen ekonomiese groei meer in die dorp wees nie. Wanneer dit gebeur, gaan daar inderwaarheid net ekonomiese agteruitgang wees. Maar soos boere is, wil hulle nie gaan lê nie. Hulle sal hierdie stryd tot aan die einde voer.”




