Drakenstein-munisipaliteit het 50 bykomende bedryfslisensies vir minibus-taxi’s goedgekeur om pendelaars op die B97-roete, tussen Mbekweni en Bellville, te vervoer.
Dít kom nadat daar bevind is dat net ses minibustaxi’s bedryfslisensies het en wettiglik op die roete mag werk.
Die spesifieke roete het die afgelope paar jaar opslae gemaak aangesien twee plaaslike taxi-verenigings, gekoppel aan die Cata en Codeta provinsiale taxi-verenigings, baklei oor eienaarskap van die B97-roete. Die bakleiery het in ’n bloedbad ontaard met baie taxi-eienaars, bestuurders en selfs pendelaars wat hul lewe in die proses verloor het.
Die situasie het die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, Daylin Mitchell, genoodsaak om die roete einde Julie 2021 te sluit toe die geweld in die provinsie handuit geruk het. Die roete is sedertdien steeds gesluit omdat die verenigings nog nie ’n ooreenkoms kon bereik oor hoe hulle vreedsaam op die roete kan saamwerk nie. Mitchell het onlangs die roete vir ’n verdere vier maande tot en met September gesluit.
Alhoewel die munisipaliteit die bykomende bedryfslisensies goedgekeur het, tree dit eers in werking sodra Mitchell die roete weer oopstel. Wetstoepassers van die provinsie, Stad Kaapstad en Drakenstein sal ook saam werk om te verseker dat onwettige minibustaxi’s nie op die B97-roete bedryf word nie.
Intussen maak pendelaars steeds gebruik van die Golden Arrow-busdienste wat daargestel is om hulle tussen Mbekweni en Bellville te vervoer.
Marius Wüst, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, het by navraag gesê die goedkeuring van die bedryfslisensies deur die plaaslike munisipale raad dien as ondersteuning vir die Provinsiale Regulerende Entiteit (PRE), rakende die oorweging van lisensie-aansoeke.
“Dié aansoeke word by die PRE ingedien, wat die insette van die raad aanvra soos nodig. Daar is nie ’n formele ooreenkoms tussen die partye [taxiverenigings] soos genoem nie, maar die ondersteuning van Drakenstein-munisipaliteit vir die 50 lisensies is onderhewig daaraan dat die verkeersowerhede deurlopend aandag gee aan die regulering van die roete en voorkoming van onwettige operateurs.”
. Drakenstein Municipality has approved 50 additional operating licenses for minibus taxis to transport commuters on the B97 route, between Mbekweni and Bellville.


