Het jy die eerste ses maande van die jaar fiks gebly, of wil jy nou begin? Dirtopia bied ’n wedloop op 26 Junie by die Muratie-wynlandgoed aan en vra die publiek om hul tekkies af te stof en aan dié wedloop teen die steiltes van Simonsberg te kom deelneem.
Dirtopia het sy eerste middel-jaar-wedloop in 2015 by hierdie geskiedkundige wynplaas gehou, en vanjaar vorm dit deel van die Sportsmans Warehouse Trail Running-reeks. Elke maand vind daar ’n verskillende wedloop plaas op ’n wynplaas in die area, en hierdie maand is dit Muratie.
Die wedloop sal langs die wynkelder begin en eindig, en deelnemers kan een van twee verskillende roetes kies.
Die roete oor sewe kilometer het ’n breë enkelspoor op die ABC-roete na Gilloolys, die uitsigpunt waar ’n verversingstasie opgerig sal wees. Die ander roete – oor 12 kilometer – sal jou fiksheidsvermoë meer toets met ekstra draaie voor die eindpunt.
Alle deelnemers sal ’n medalje ontvang en staan ??ook ’n kans om pryse in ’n trekking te wen, waar topgehalte sokkies van Falke, Sportsmans Warehouse-koopbewyse en wyn van Muratieop die spel sal wees.
Registrasie begin om 07:45 by die wynkelder. Die 12-kilometer-wedloop begin om 08:45 terwyl die korter afstand om 09:00 begin. Stappers en kinders is welkom om die korter roete te doen.
Pryse sal toegeken word aan die beste manlike en vroulike deelnemers in elke afstand, en die topdrie o.18’s in die kortafstand. Koffiestasies met verversings sal van vroegoggend af oop wees.
Inskrywings kan tot 24 Junie aanlyn gedoen word by www.dirtpass.co.za. Pryse wissel van R150 tot R180, terwyl kinders o.18 R60 aanlyn betaal. Alle laat inskrywings op die dag sal ’n bykomende fooi dra.
Vir navrae, kontak assebliefDirtopia Trail Centre by 078 343 3572 of info@dirtopia.co.za. Volg Dirtopia op Twitter, Instagram en op Facebook vir die jongste nuus en berigte.


