Die aantal haweloses wat in die strate van Drakenstein ronddwaal raak al hoe meer.

Vir jare al is daar ’n geweldige sosio-ekonomiese probleem wat nou ook erg geëskaleer het sedert die koms van die Covid-19-pandemie.

Inwoners van ons dorpe toon dikwels op sosiale media hul misnoeë oor die toestand van die gebiede waarin hulle woon weens haweloses wat op straat bly, sypaadjies bemors en grootliks ook tot misdaad bydra.

Inwoners wil nou weet wat die Drakenstein-munisipaliteit se voornemens hiermee is.

Paarl het een skuiling wat dikwels, en veral nou in die koue wintermaande, oorvol is. Wellingtonners wag al jare lank vir hul beloofde nagskuiling wat net nie van die grond af kom nie.

En terwyl daar gesloer word om daadwerklik ’n plan te maak oor die haweloseprobleem, vermeerder die haweloses net in ons strate.

Ons harte gaan uit na diegene wat op straat beland – dit is immers ’n plek waar niemand wil woon nie. Of is dit?

Studies wys dat die meeste haweloses wel familie het wat vir hulle ’n heenkome wil bied. Maar hulle verkies om eerder op straat te bly omdat hulle dan nie aan hul familie se “wette” onderworpe is nie.

Ons kan nie bekostig dat ons dorpe nog verder verval nie en die owerhede sal saam ’n plan moet maak om ons strate skoon te kry en ’n daadwerklike strategie moet vind om haweloses te rehabiliteer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article